Dit is merkwaardig wat ‘n positiewe ingesteldheid vir jou gesondheid kan doen. My vriendin se ma beland in die hospitaal vir ‘n voetoperasie. Haar grootste bekommernis is dat hulle tog asseblief haar eie nagklere moet aantrek as sy uit die teater kom.
Sy glimlag dadelik toe sy uitkom, soek iets om te drink en kam haar hare. “Dis seer” verklaar sy, “maar ek dink ek sal vanaand huis toe gaan. Is mos beter by jou eie huis.” ‘n Uur later verras sy die fisioterapeut wat nog vir die tannie wil wys watse oefeningtjies sy moet doen deur op te staan, die ortopediese skoen aan te pluk en badkamer toe te loop.
Haar buurvrou vir die dag kan nie al die aktiwiteit glo nie. Sy is heelwat jonger, maar het met haar vorige operasie vir ses weke nie geloop nie. As haar man haar nie in die rolstoel kon uitstoot nie, het sy maar bly lê. Die fisioterapeut verduidelik ‘n halfuur lank vir haar hoe die oefeninge gedoen moet word, en dit gaan met vreeslike steun en kreun geluide gepaard.
Die spesialis kom verby om te kyk hoe gaan dit met sy pasiënte. Die oudste tannie is gereed om huis toe te gaan. Die ander vrou voel duidelik sy moes liewer die nag gebly het, want netnou gebeur daar iets en gaan die suster ‘n rolstoel bring sodat sy tot by die motor kan kom? Sy het darem gelukkig nou die loopraampie by die huis.
Terwyl ek al die drama gade geslaan het, het ek net weer besef, hoe jy dink oor ‘n saak is presies hoe jou liggaam daarop gaan reageer. Vir die een vrou was die operasie nog ‘n geleentheid om hulpeloos vir ses weke te wees. Om haarself jammer te kry en verder te kla. Vir die ander was die operasie ‘n noodsaaklikheid om agter die rug te kry sodat sy kan aangaan met haar lewe.
Twee dae later is my vriendin se ma besig om die tuin nat te spuit. “Ek kan nou nie my plantjies laat doodgaan net omdat my voet seer is nie. Nee, man, ‘n mens gaan lê nie net nie. Jy gaan aan. Kyk net hoe mooi glimlag die ou gesiggies vir jou”, gesels sy vrolik al is die voet nog seer. ‘n Positiewe gesindheid maak ‘n reuse verskil.
Indien jy hierdie artikel geniet het, koop gerus jou kopie van Lynette Beer se boek Pêrels in jou Sak
Uit die Woord:
“... maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe
krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie
moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”
– Jes. 40:31
We invite you to talk to us about a workshop that will best solve your personal and professional issues. Should you not be able to conduct a face-to-face workshop anytime soon, feel free to browse through our online store for one of our self-help books.
Seeds of Inspiration (Pty) Ltd t/a Lynette Beer | Registration Nr: 2011/134865/07
Po Box 41921, Moreleta Ridge, Pretoria, South Africa, 0044
Copyright © 2023 Digital Zoo Website Design Company - All Rights Reserved
Domain Registration
|
Email Address
|
Website Design
|
Graphic Design
|
Social Media Management
|
Search Engine Optimization
|
Online Marketing
|
Web App Developer