Hoop is nie die oortuiging dat alles goedsal gaan nie, maar die sekerheid dat iets sal sin maak, ongeaghoe dit sal afloop!
Op pad terug van Nelspruit is daar ‘n afrit met die naam, Geluk. Mmm, sê ek vir Dathan: “Sê nou net dit was so eenvoudig om net in jou kar te klim en na geluk te ry sou jy bietjie geluk nodig mag hê.” Ai, dit is ongelukkig glad nie so eenvoudig nie, nê?
So gaan my gedagtes… geluk is nie in geldnote te vind nie, ook nie te koop in botteltjies op apteekrakke nie. Geluk is nog minder te kry in ʼn spuitnaald soos ʼn “vitamienbooster”. Ek sê vir Dathan wat graag Kaapstad toe wil trek: “Dathan, die Kaap gaan jou nie gelukkig maak nie”. Om te dink dat ʼn plek, goed of iemand jou gelukkig maak is ʼn illusie.
Daar was ook ʼn tyd in my lewe wat ek gedink het as ek net daardie groot liefde kan vind wat my voete vuisies sal maak, of as ek my eie besigheid het of as ek die dag op televisie my ontdekte waarhede met ander kan deel sal dit my gelukkig maak. Die realiteit is egter dat ek moes ontdek dat geen iets of iemand jou werklik blywend gelukkig kan maak nie. Dinge en mense maak jou slegs gelukkiger.
Die lewe se diepste geluk lê in die lewe se diepste verhouding; die met God, in Sy Seun Jesus Christus. Slegs wanneer ons onwrikbaar in Christus gesetel is kan ons waarlik gelukkig wees ten spyte van die gejaagde en deurmekaar wêreld met sy konstante uitdagings.
Mense stel teleur en die blink verloor sy glans, maar die wete dat ons Hemelse Vader ons onvoorwaardelik lief het, hou ons regop en laat ons hoopvol leef met ʼn ongekende geluk in ons binneste. Nee wat Dathan, hou maar verby die “geluk” afrit. My geluk is veel dieper as ʼn naambord met ʼn afdraaipad na êrens.







