Om te wag vir dinge om te gebeur is sinneloos. Skep jou eie geleenthede!
Na afloop van een van my seminare nader ‘n man my wat navraag doen oor die prys van my optredes. Terwyl hy wegstap besef ek weer eens dat mense waarde soek vir hulle geld. Die prys maak nie eintlik saak solank dit waarde vir geld is nie.
Dit laat my onwillekeurig dink aan uitlatings wat ek al gehoor het soos byvoorbeeld: “ek wens ek het ‘n mooi lyf gehad”; “‘n six pack”; “kennis”; “‘n mooi verhouding”; “‘n luukse motor”; “‘n spoggerige huis”; “wens ek was skuldvry” ens. Ek het ook al gehoor hoe mense begeer om op dieselfde geestelike vlak te wees as iemand anders.
Sulke uitlatings laat ‘n mens wonder… Wonder oor die aantal ure en dissipline wat dit geverg het om ‘n mooi lyf, bene of six pack te hê. Hoeveel geld, ure, dae, weke, maande en jare ingesit was om uiteindelik oor diepsinnige kennis te beskik en hoeveel naweke se pret geoffer was terwyl ander gepolefink het. Hoeveel begrip en praat dit geverg het om ʼn mooi verhouding te kan hê.
Al ooit gewonder hoeveel nagte en vroeë oggendure gewerk moes word om die mooi motor, spoggerige huis en mooi meubels te besit? Hoeveel keer daar selfdissipline en frustrasie was om nie op skuld te koop nie. Besef ons werklik hoeveel ure voor die aangesig van die Here in gebed en in die Woord gespandeer was en steeds gedoen word om op ʼn sekere geestelike vlak te leef?
‘n Mens moet jou seker self afvra hoe graag wil jy dit wat jy begeer hê?
Om te kan groei, materieel asook geestelik, vra dat ons ‘n prys sal betaal. Is jy bereid om die prys te betaal vir dit wat jy graag wil hê?
“ Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wes. Julle sal niks kortkom nie. ”
Jak. 1:4 (NLV)







