God gebruik gebroke dinge; gebroke wolke,gebroke graan; gebroke fles… gebroke Petrus!
Ek lees ’n aangrypende verhaal van Peter Jenkins wat ’n boek geskryf het oor ’n stap ervaring, A Walk Across America. Peter het oor ’n tydperk van vyf jaar, 5 000 myl gestap met ’n 70 kg rugsak. Hy trotseer uitdagende weer en is verkeie kere aangeval deur diere, gesteek met messe, gepik deur slange en beroof. Hy is raakgery. Sy hond en “sielsgenoot”, is doodgery.
Nadat hy Walk across America voltooi het vra hulle hom wat daardie een ding was wat hom ernstig laat oorweeg het om op te gee? Sy antwoord was aangrypend: “Die sand in my skoene.” Peter sê dat daar soms weke en myle was voordat hy op ’n dorp kon kom om ander skoene te koop. Die sand in sy skoene het sy voete verniel en hom gestrem in sy stap.
Ek glo dat in ons lewens dit nie soseer die groot goed is wat ons onderkry nie, maar eerder die elke dag irritasies. Nie baie mense wat ’n slegte doktersverslag of selfs doodstyding kry sal ophou om die pad met God te stap nie. Inteendeel, hulle stap gewoonlik ’n nouer pad met God.
Dit is die fyn sandkorreltjies … die pyn en seer wat niemand kan sien nie, die hartseer, teleurstellings, mislukkings, vrees en bekommernis wat ons voete skaaf. Enigiets wat jou stap met God beïnvloed is belangrik genoeg om aandag aan te gee.
Hoe raak ons ontslae van die sand in ons skoene? Wees eerlik met jouself. Gee aan die sand in jou skoene ’n naam. Verander wat jy kan al sal dit beteken dat jy pyn ervaar vir die oomblik. Jy sal weer genees. Verander dus wat jy kan en maak vrede met dit wat jy nie kan verander nie. Die klein korreltjies sand in jou skoene beïnvloed jou stap, en dus jou verhouding, met God!
“ Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.”
Spr. 27:19







