As jy swaarkry kies, is daar fout met jou. Dis iets wat masochiste doen. Maar as jy ‘n berg wil klim, weet jy dat jy net met ‘n opdraende die bopunt van die berg kan bereik. 
 
As jy al ‘n ruk lank gelewe het, aanvaar jy dat die lewe uit oppe en affe bestaan. Die oppe maak jou moeg en soms moedeloos, en die affe gaan makliker, al werk hulle op jou knieë.
 
Ek het onlangs in ‘n gesprek myself hoor sê dat al my persoonlike groei uit moeilike tye gekom het. Dis die opdraendes wat my laat groei het! Ek het skielik besef dat die lewe soos ‘n gym werk – as jy wil fiks word of jouself net in stand wil hou, moet jy kans sien om jou hart en longe en jou spiere te oefen. Dit kom nie vanself nie.
Swaarkry is jou spieël wat jou innerlike krag vir jou wys. Wanneer jy terugkyk na jou opdraendes en jou uitdagings, besef jy dat dit jou keerpunte was – soms jou omkeerpunte. Dis wanneer jy planne maak, jou vriende leer ken en fokus op vorentoe gaan.
 
Sommige mense haak vas by hulle seerkrypunte. Hulle raak gevangenes van selfbejammering of verwyt en negatiewe gedagtes. So keer hulle nie net hulle eie groei nie maar ook hulle eie genesing.
 
Wanneer jy die snoeiproses kan raaksien vir wat dit is – ‘n skoonmaak en ‘n wegsny ter wille van nuwe groei, kom jy nader aan die antwoord. Wees eerlik met jouself en vra jouself hoe jy by dié punt uitgekom het, wat jou rol was en wat jy daaruit geleer het. Besluit of jy wil aanbeweeg – of jy die roosboom wil laat vrek en of jy ‘n nuwe loot wil groei. Wat op sy tyd, met splinternuwe rose gaan blom.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs