Die Seisoen van krismis tot Kersfees…

Die een dag was daar nog niks en toe skielik is dit weer oral. Kersmusiek in die winkels. Kersbome blink getooi in die winkelvensters. Elke tweede advertensie op die radio en TV belowe jou die beste winskopies vir die Seisoen. Is mos nou se dae polities korrek om van Die Seisoen te praat en ek wil nogals met die sentrums en groot maatskappye se bemarkingsmense saamstem, dis Die Seisoen. 
 
Die Seisoen van onnodige goed koop, van jouself mal werk om tog net deur al November se werk te kan kom om hopelik ‘n dag of twee ekstra in Desember te kan afvat. Ons is ampertjies in Desember en dit voel so al vir my of Die Seisoenkoors vroeër begin posvat het. Of die malle gejaag en klatergoud elke jaar net erger word. En dan die groot gevaar… die strewe na die perfekte Desember. 
 
Hoeveel van ons sukkel nie oor hierdie tyd om jou gesin te kry om meer te wees soos wat jy in die krismisprente op die TV sien nie? Hoeveel resepte versamel jy en probeer jy om alles so prentjiemooi soos in die tydskrifte se spesiale vakansieuitgawes te kry? 
 
Sien jy regtig kans daarvoor die jaar? En wat van al die mense wat glad nie van die tyd van die jaar hou nie? Die eensaamste tyd vir baie mense. Die hartseerste tyd. Die tyd van die jaar wat die depressiemonster erger byt.
 
Vir almal wat na ‘n perfekte krismis strewe, vir almal wat wens Desember is al verby, vir die wat uitsien na vakansies en vir die wat dit nie kan bekostig nie, vir elkeen van julle wil ek sê… Laat die wêreld maar Die Seisoen vier, laat die wat wil krismis hou, hul krismis hou… Ons vier oor minder as ‘n maand KERSFEES. Christusfees. Blye tyding. Vrede op aarde. Stille Nag. Bethlehemster… Mag Hy jou krag, moed en inspirasie wees vir hierdie laaste mal maand van die jaar wat voorlê. 

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs