Een van die dramatiese dinge wat ek my oupa soms hoor sê het, was: “Die oggendstond het goud in die mond.” En dan het ek gewonder of dit iets uit te waaie gehad het met die stukkie goud in Oupa se voortand. Ek het nie geweet wat ‘n stond was nie en ek het gewonder vir wat bêre mens goud in jou mond?

Maar ek het later uitgevind dat dit nie net ‘n oumens-waarheid was nie. Dis ‘n spreuk wat in vandag se taal, beteken dat jy êrens gaan kom wanneer jy jou oggende na waarde begin skat. ‘n Dag begin met ‘n oggend (of ons daarmee saamstem of nie) en jy sal verbaas wees wat jy vermag as jy jou oggende vir jouself terugneem.

In hierdie tye van effense chaos en gebrek aan struktuur, het dit belangrik geword om jouself te dwing om op ‘n vaste tyd op te staan, aan te trek, jou bed op te maak en gereed te maak vir die dag. Navorsing onder suksesvolle mense het gewys dat hulle belê in ‘n gesonde oggendroetine wat ‘n oefensessie en dinktyd of stiltetyd insluit.

Hulle raad is dat ‘n mens jou vroeg-oggend se opstaan al die vorige aand moet beplan. Want dis net menslik om, veral wanneer jy moeg is, verskonings uit te dink wanneer die wekker afgaan. Want jou moeë self dink met jammerkry-emosies en as daar nie ‘n werksafspraak is nie, kan jy maklik in die warm kooi bly lê.

Dis nie verspot om jou kleertjies vir die oggend reg te sit nie – jou drafklere en jou dagklere. As jy byvoorbeeld besluit het om te begin fiks word en jy weet dat jy die wekker gaan dooddruk, laat hom in die badkamer lui. Herinner jouself dat die oggend joune is – mits jy hom gryp voor hy verby is. Carpe diem – pluk die dag – begin by diep inasem van die oggendlug.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Carpe diem
Inspiration

Carpe diem

Omdat ek gereeld moet reis, kry ek genoeg geleentheid om mense dop te hou. Ek kan my verkyk aan mense se optredes en reaksies. Dis

Read More »