Sien jou hartsmense raak

Daar is blykbaar weer ‘n nuwe gier wat kop uitsteek op sosiale media. Self het ek dit gelukkig nog nie beleef nie, maar so duik dit tog op my Facebookmuur op soos mense dit deel. Dit kom basies daarop neer dat ‘n groep mense besluit om iemand wat hul ken ‘n poets te bak deur te maak asof een in die groep die vermoë het om die “slagoffer” te laat verdwyn.

In die een video is dit ‘n jong seun. Sy broer gooi ‘n lap oor sy kop, prewel “towerwoorde” en wanneer hy die lap afhaal maak die res van die gesin asof hulle die kind nie kan sien nie. “But I am here” pleit hy herhaaldelik tervergeefs en dis eers as hy begin huil dat die ander hom laggend vertel dit was net ‘n grappie.

Nie vir my snaaks nie, maar dit het my tog laat dink. Hoe baie maal kyk ons bo-oor die mense die naaste aan ons? Ons is so besig om van die een afspraak na die ander te jaag, die een projek na die ander klaar te maak, dat ons partykeer nie hoor as ‘n hartsmens vir ons sê, “Ek is hier. Sien my raak”, nie.

Partykeer raak juis die mense wat saam met ons in een huis leef vir ons onsigbaar. Ja, hulle is daar. Ja, julle groet en julle praat, maar wanneer laas het jy saam met jou naaste mense sommer net gesit en kuier? Sonder die TV, sonder slimfone, sommer net gesit en rustig gesels?

Die lewe is kort en vinnig, mense is belangrik en kosbaar. Spandeer tyd saam met die mense om jou. Sien hulle raak. Jy sien, die lewe werk anders as die simpel poets oor onsigbaarheid wat nou op sosiale media die rondte doen, in hierdie lewe kom daar ‘n tyd wat elke mens regtig verdwyn en dan is dit te laat…

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Face your fears
Fear

Face your fears

Can you remember a time when you had to face fear? Not necessarily a severe or debilitating fear, but anxiety that made you hold your

Read More »
Belê in jou buurman
Inspiration

Belê in jou buurman

‘n Suksesvolle graanboer in Amerika het jaar na jaar met die trofee by die landbouskou weggeloop. Kom ons noem hom Boer Jan. Sy mede-boere het

Read More »