Daar’s ‘n bekende grappie van die man wat op die lughawe sy gewig wou rondgooi omdat hy nie voorkeur-behandeling ontvang het nie. Sy spesiale sitplek in die vliegtuig was reeds geneem en die grondwaardin wou nie vir hom agteroor buig nie. Hy vra haar toe of sy weet wie hy is. Haar reaksie was toe om oor die luidspreker hulp in te roep: “Hier is ‘n man by my wat nie weet wie hy is nie,” het sy laat afkondig. “As iemand kan help, meld asb. aan by Kulula toonbank Nommer 13.”

In ‘n toerismekantoor het ek dieselfde lekkerkry beleef toe ‘n naweek-toeris in Dullstroom nie sy sin kon kry nie. Die uiters behulpsame kantoorjuffer het haar hande vol gehad om ‘n bye-probleem in die gehuurde huis uit te sorteer toe die effens aangeklamde man haar konfronteer met: “Juffroutjie, ek ish ‘n prokureur. En my vriend hier by my, ish ‘n dokter.”

“En ek,” antwoord sy vriendelik maar ferm,  “is beïndruk. Sit gerus, ek wag om van die byevanger te hoor.” En toe help sy die volgende mense in die ry.

Mense word onnodig beïndruk deur titels en prestasies. Ek weet van ‘n Opvoedkunde-professor wat as stokperdjie ook die Universiteit se teekamer beman het. Met die jaarlikse skoolhoofde-simposium, was hy op sy pos agter die koffiepotte, voorskoot om die lyf. Nie een van die hoofde het veel notisie van hom geneem nie. Toe hy kort daarna sy baadjie aantrek en agter die podium in die lesingsaal inskuif, het die belangrike skoolhoofde besef dat hy hulle leermeester vir die volgende twee dae sou wees. Met die volgende tee-sessie wou hulle almal met hom praatjies maak.

As jy weet wie jy is, hoef jy dit nie vir ander te vertel nie. Want jy weet dat dit nie van jou gesteel kan word nie. Dis wat Christus gedoen het. Al het Hy geweet dat Hy God was, het Hy as mens aan die Kruis gesterf.

Dis wat ek en jy as sy kinders behoort te doen. As jy weet wie jy is – veral in God se oë – kan jy jouself wees.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs