As ek jou nou sou vra om vir my neer te skryf wie jy is in 75 woorde, wat sal jy neerskryf? Die meeste mense sal begin met: Ek is Anna Botha. Ek is 40 jaar oud en is ‘n Ma van twee dogters. Hulle is nou op universiteit. Ek is ‘n geoktrooieerde rekenmeester van Waterkloof. My man is ‘n professor in teologie.
Dit is alles feite, maar behalwe vir jou naam weet ek nog nie wie is jy nie. Ons definieer onsself te maklik volgens beroep, verhoudingstatus, of waar ons bly. Tog is dit alles goed wat in ‘n oomblik van ons af weggeneem kan word.
Die toets om te bepaal of jy werklik weet wie jy is, is eenvoudig. As jy kerk toe gaan op ʼn Sondag, werk toe gaan op ʼn Maandag en gesellig verkeer op ʼn Saterdagaand sal mense jou erken in terme van slegs jou gedrag op al hierdie geleenthede? Dit is nodig om soms aan te pas by ʼn situasie, maar as dit so ver gaan dat jy ʼn masker moet opsit om in te pas verloor jy elke keer ʼn stukkie van wie jy werklik is.
Onthou jy is ‘n individu met ‘n temperament, karakter en persoonlikheid. Jy leef nie toevallig vandag in hierdie land nie. Jy is ook nie ‘n fout, ‘n glips of ‘n probleem nie. Jy het ‘n doel op aarde, maar om dit te kan verwesenlik, moet jy eers jouself leer ken, vertrou en liefhê.
Wie sê jy is jy? Sonder dat jou beroep, lewensmaat, kinders of selfs jou kerk definieer wie jy is. Kan jy hierdie vraag met selfvertroue en trots antwoord? As jy kan, sal jy vind dat meeste dinge in jou lewe in plek is, maar as jy twyfel en nie hierdie vraag kan antwoord nie, sal jy vind dat daar soveel dinge in jou lewe is waaroor jy bekommerd voel en dalk reeds al beheer oor verloor het.
Raak ontslae van die maskers in jou lewe. Wees wie jy geskape is om te wees. Streef jou eie drome na en hou op om jouself met ander te vergelyk. Kyk elke dag in die spieël en sê: “Ek is oukei. Ek is wie ek veronderstel is om te wees. Net ek. Ja ek het foute, ja ek werk daaraan, maar ek wil, ek sal en ek gaan myself ontdek vir wie ek is in Christus en nooit moed opgee nie. Ek is ‘n wenner.”







