Tussen die hede en die toekoms is daar ‘n onvermydelike brug genaamd verandering. Hoe en of ons wel die brug oorstap, sal die kwaliteit van ons lewens bepaal!
Al ooit gewonder waarom sommige mense dit eenvoudig nie regkry om gelukkig te wees nie? Kan dit wees omdat daar voortdurend bagasie van die verlede saam gesleep word? Moontlik ʼn voorval van ʼn week gelede waar hul deur iemand te na gekom is en daardie pyn in ʼn tassie gepak het? ʼn Maand gelede het hulle dalk hul humeur verloor en ook dit is in ʼn ander tassie gepak. Tien jaar gelede is iemand na aan hulle oorlede en hulle verstaan nie die “onregverdigheid” daarvan nie. Hierdie kwaad is weer in ʼn ander tassie gepak. As kinders was hulle moontlik onregverdig behandel en ook hierdie rommel van hul verlede is mooi in ʼn ander tassie verpak.
So word hierdie tassies oral saam gesleep. Dikwels word dit oopgemaak en uitgepak net om seker te maak dat alles nog daar is, waarna dit weer teruggepak en verder gesleep word. Na ʼn gebroke verhouding het “Stefanie” gebid vir ʼn lewensmaat. Sy ontmoet toe ʼn wonderlike, Goddelike en suksesvolle man waarvoor sy dankbaar was. Sy maak egter die fout om al haar emosionele bagasie van die verlede by die nuwe verhouding in te trek. Die jong man kon eenvoudig nie langer met die tassies uit die verlede saamleef nie en het aanbeweeg.
Solank ons vashou aan die pyn van die verlede sal dit ons vergiftig en later vernietig. God wil hê dat ons, ons tassies moet agterlaat. Hy wil vir ons ʼn nuwe begin gee. Indien iemand jou te na gekom het, gee dit vir God. Los die tassie by Hom. Hou op om te treur oor dit wat was en beweeg aan. Solank jy bly top oor die verlede, sal jy verder en verder in die gat van depressie verval. God is groter as jou verlede en teleurstellings. Vul jou hart met hoop en fokus op nuwe geleenthede!
“ Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! ”
1 Kor. 5:17 (NLV)







