Watter kleur is jou vrees?

Laat ons mekaar – en onsself – nou nie flous nie. Ons beleef almal ‘n sekere graad van vrees op die oomblik. Maar dis juis die graadverskil wat ons van mekaar onderskei.
 
Daar is die ontkenners, wat glo dat die pandemie ‘n berg van ‘n molshoop maak. Hulle verwys selfs na die Covid 19-virus as ‘n verkoue op steroids, iets wat ons dalk almal gaan kry. Maar die hele afsonderingstorie is ‘n klug, sê hulle. Dis hulle wat nog skelm partytjies hou en kuier, net om te bewys dat hulle dapper is en “vere voel” vir die oordrewe maatreëls. My teorie is dat hulle vrees pers is – ligpers in die dag en donkerpers saans. Want eintlik is hulle vrekbang maar net wanneer hulle alleen is. Hulle vertel vir Niemand hulle drome nie.
 
Aan die ander verste kant, kry jy die met ‘n rooi vrees. Hulle sien alle mense as wandelende viruses. Ek ken ‘n man wat bloedrooi is van die vrees. Hy sê hy is net versigtig maar hy kan vir jou die daaglikse statistiek opnoem – nie net van ons land se gevalle nie, maar ook van die hele wêreld. Hy weet presies waar die kurwe staan en twyfel of enige afplatting moontlik is. Hy wou onlangs sy swembad toemaak en het hulp nodig gehad met die reuse seil. Sy buurman het aangebied om te help maar hy wou om die dood nie waag dat iemand wat dalk by ‘n vreemde winkel gaan inkopies doen het, by sy voordeur inkom nie. As dit nie vir sy vrou se agteraf reëlings was nie, het die seil in die stoorkamer bly lê…
 
My keuse is om ligblou te vrees, so in ‘n pastel-skakering. Ek ontken nie die gevaar van die virus nie en ek luister eenmaal per dag nuus om te weet wat aangaan. Ek dra my masker, was my hande en hou my veilige afstsand. Ek oefen om my hande uit my gesig uit te hou want ek glo dat dit moontlik is om jouself virus-vry te hou. Ek dra die feite soos ‘n geldsakkie met my saam, maar ek gaan aan met my lewe en ek is eintlik besiger as ooit. Want ek weet – wanneer hierdie grendeltyd oopmaak, gaan ek nie maklik weer tyd kry vir al die heerlike nuwe dinge wat ek nou ontdek nie. 
 
My vrees bly nie in my huis nie. Hy stap saam met my die winkels in en herinner my aan versigtig wees. Maar as ek by die huis kom, haal ek die sakkie af en sit hom langs die mikrogolf-oond waar hy hoort. Hy pla my nie en hy gaan slaap beslis nie vanaand saam met my nie. Want as weet dat vrees en liefde mekaar nie kan verdra nie. En as ek vir God dankie sê vir die dag, is dit sy krag, sy liefde en vrede wat van vrees ‘n verspottigheid maak.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Hou die gif buite
Inspiration

Hou die gif buite

Het jy al ooit iets galbitters geproe? Miskien was jou ma een van die Lennon-dissipels wat Lewensessens aangehou het en jou daarmee gedokter het as

Read More »