Wat is jou nalatenskap?

Die afskeid het saam met die eerste somerreëns gekom. Dit het my opgeval, die blydskap oor die langverwagte reën en die groot hartseer omdat een van my hartsmense nie meer daar is nie. So is die lewe, voortdurend aan die verander, nie altyd verstaanbaar en verklaarbaar nie.

“Aardetyd is genadetyd” het sy altyd gesê en voluit geleef, ten spyte van omstandighede en swak gesondheid. Ek kan vandag met vele clichès vorendag kom, nie een daarvan gaan ‘n verskil maak aan die drie kinders wat nou sonder ‘n mamma die wêreld moet aandurf nie.

Wat ek wel weet, is dat ek in alle tye my vertroosting in die Vader vind. En as ek maar die helfte van ‘n verskil kan maak wat Jana du Plessis in haar lewe gemaak het, sal ek myself besonders bevoorreg ag.

Dit val my al hoe meer op dat wat jy het en wat jy in jou loopbaan bereik het, niks beteken in vergelyking met die invloed wat jy op ander het nie. Jou ware nalatenskap is nie jou suksesse by die werk of geld in die bank nie, maar die impak wat jy op mense se lewens en harte het.

Onlangs op ‘n roudiens in ‘n klein dorpie neem ‘n gemeenskap afskeid van ‘n tannie van 84. Net na die diens gaan staan die begrafnisondernemer voor. ‘n Groot man, was op sy dag ‘n geharde polisielid, maar daar staan hy met trane in sy oë en vertel hoe Tannie Lenie jare terug die grootste verskil ooit in sy lewe gemaak het. “Ken jy Jesus?” het sy hom sommer so oor ‘n koppie koffie gevra en die gesprek daarna het sy lewe verander.

Na die diens, by die gebruiklike koffie en broodjies aksie, kom mens gou agter watter geweldige positiewe invloed sy op almal gehad het. Oë blink nog van die trane, maar almal glimlag, want almal onthou hoe sy hul aangeraak het. Die mense is met hoop en harte vol dankbaarheid en liefde daar weg, nie oor die mooi preek nie, maar omdat ‘n stukkie van haar menswees in elkeen se harte bly voortleef.

Dit, my liewe lesers, is presies waarna ek en jy ook moet streef.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Be authentic
Inspiration

Be authentic

Are you trying to be who and what others want you to be or are you authentic?
Most of us would answer that we

Read More »