“Ek weet nie hoe jy net so kan sit nie. Ek sal nooit so kan wees nie.”
Die vrou het duidelik ‘n Rooi temperament. Is heeltyd bedrywig en jaag aanmekaar haar man aan wat alle tekens van ‘n Groen temperament toon. “Môre is nog ‘n dag” is al kommentaar wat hy lewer toe sy vir hom nog ‘n takie uitdink om te verrig.
“Ek wens jy was meer soos ek” raas sy en ek glimlag. Dis nogal iets wat mens baie hoor. Mense wat wens ander was tog net soos hulle. Sulke mense verkeer onder die waninruk dat hul lewens makliker sou wees as almal net soos hulle was.
Ek is so dankbaar dit is nie die geval nie. Dink vir een oomblik wat sal gebeur as almal Geel was. Ag ja, daar sou ‘n vreeslike lawaai wees. Baie lag. Baie idees, maar ek twyfel of daar veel gedoen sou word. Om nie te praat van die misverstande omdat niemand na mekaar luister nie.
Of verbeel jou almal was Rooi. Kan jy jou die chaos indink? Weereens sou niks gedoen word nie, want almal sou te veel baklei. ‘n Klomp gebore leiers elkeen met ‘n sterk persoonlikheid wat dink hule manier is die regte manier.
Julle Bloues lag verniet. Was almal in die wêreld Blou sou dit dalk ‘n stiller plek wees waar klassieke musiek en hogere kuns geld, maar dink net die stressvlakke! Die strewe na perfeksionisme. Die onmoontlike hoë standaarde. Niks sou klaarkom nie. Almal sou probeer om die een ding perfek te doen.
Ek sien die Groenes loer so half ongeërg in my rigting. Ja, julle rustige karnallies, was ons almal groen sou daar seker meer stilte en vrede geheers het, maar ek vermoed ons sou dalk nog almal in grotte oggend, middag en aanslapies geneem het. Die motivering sou doodeenvoudig ontbreek om vuur te ontdek of ‘n wiel uit te vind.
Dus mense, al vier temperamente is noodsaaklik vir ons om voort te bestaan op hierdie aarde. Sien dit as ‘n legkaart. Die Vurige Rooi Temperamente is die hoeke, die Perfekte Bloues vorm die raamwerk, terwyl die Populêr Geles en Vredeliewende Groenes die prentjie aan die binnekant voltooi. Wees wie jy moet wees in hierdie legkaart van die lewe, en aanvaar dat die mense om jou nie altyd soos jy dink en doen nie. Dis hoe dit moet wees.







