Ek lees onlangs dat die teenoorgestelde van geloof nie ongeloof of twyfel is nie, maar vrees. DIt het my twee keer laat dink en ek het besluit ek koop hierdie teorie.
Maar toe hoor ek ‘n navorser sê dat vrees die teenpool van vreugde is. Sy het letterlik tienduisend verhale bymekaar gemaak – van mense wat ernstige trauma oorleef het en met vreugde anderkant uitgekom het. Haar bevinding was dat die teenoorgestelde van vreugde nie hartseer is nie, maar vrees.
Ek onthou toe ook die bekende Bybelse feit dat vrees en liefde teenpole van mekaar is – waar daar vrees is, kan daar nie liefde wees nie, maar waar daar liefde is, kan daar ook nie vrees wees nie.
Vrees steel geloof, hoop en liefde by jou en maak jou wys dat jy nie “genoeg” is nie. Dit laat jou fokus op dit wat jy nie het nie, in plaas daarvan om dankbaar te wees vir dit wat jy nog het.
Om ‘n ingesteldheid van “genoeg” te kweek, kan jou lewe verander. Dis ‘n nuwe manier van kyk na jou omstandighede – ‘n keuse wat jy doelbewus uitoefen. Genoeg gaan nie oor hoeveelheid nie, maar oor die wete dat daar vir jou voorsien sal word, dat daar genoeg is om van te lewe en dat jyself ook genoeg is. Die Engelse praat van “worthy” – jy is werd om liefgehê te word en te behoort.
Dit begin by dankbaarheid vir die klein dingetjies, vir die alledaagse oomblikke van mens-wees. Dit begin by ‘n nuwe bril wat jy opsit wanneer jy jou dag begin en in jou kop ‘n lysie maak van alles wat jy het. Dis soos kosmaak aan die einde van die maand, wanneer jy teen wil en dank iets moet optower uit dit wat jy in die yskas en in jou koskaste het. Dit verg soms baie verbeelding en daar’s belsis nie tyd vir vrees nie. En wie sal stry dat so ‘n nuutskepping jou nie ekstra dankbaar maak vir wat jy het nie?







