Ek kry hierdie van ‘n vriendin en ek moes dit net met julle deel (met haar toestemming).
“Ons het in die week weer gaan brood uitdeel by die laerskool om die hoek. Die eerste outjie het sy verskyning gemaak vlak voor die klok gelui het vir pouse. Hy is in die Gr R klas. Kom skaars by die tafel by. Sy ogies groot, sy klere vuil. Ek groet vriendelik. Hy lyk onseker. “Waar is jou kaartjie?” vra ek. “Nog in die kantoor” sê hy. Ek weet die ander tantes dring daarop aan dat net die kinders met die geelkaartjies mag kos kry, maar gelukkig is ek nie van die ander tantes nie.
“Jy kan twee broodjies vat en gaan kyk die tannie daaronder het koekies” moedig ek hom aan. Hy staan steeds. “Wil jy nou vat of liewer wag vir die ander kinders?” probeer ek weer. “Nou tannie” besluit hy en vat ‘n sakkie met ‘n ham en kaasbroodjie. Hy rek sy treë verby die res van die tafel na waar my vriendin met die koekies staan. Sy ogies word nog groter terwyl hy verlangend na die ongekende rykdom in haar hande staar.
“Jy kan maar twee vat” sê sy vir hom. Hy is in sy noppies daar weg met sy fonds. Ek hoor hy het later nog ‘n koekie kom haal, maar teen daardie tyd was ek besig om die ander kinders te help.
Is lekker om so vinnige woordjie met hulle te wissel. Die Graad 7s het ‘n rowwe oggend... van die kleintjies kry koud. Die meeste is skaam. Almal weet hulle moet by die “broodjietafel” kos kry elke dag. Ons beurt is net eenmaal per maand. Ek wens ek kon meer doen.
Die hartverskeurendste is die kinders wat ‘n tweedemaal by die tafel draai. “Is jy baie honger vandag” vra ek die een outjie met krummels om sy mond wat weer voor my staan. Hy knik sy kop. “Jy kan maar nog kry” sê ek. Hy vat nog vier broodjies en ‘n paar appels. Gooi dit bietjie rof in die plastiese sakkie. “Dis vir my ma en kleinboetie by die huis” sê hy.
En ek voel hoe iets binne my breek. Waaroor wou ek nou weer gekla het? Waaroor kla ons elke dag? Ons wat kos en klere het. Wat in huise bly met lopende water en elektrisiteit. Wat voertuie, TVs en slimfone het. Wat gesond is. Waaroor kla jy? Daar buite is ‘n kind wat elke dag kwaai tannies durf vra vir meer brood sodat sy ma en kleinboetie ook iets kan hê om te eet.”
We invite you to talk to us about a workshop that will best solve your personal and professional issues. Should you not be able to conduct a face-to-face workshop anytime soon, feel free to browse through our online store for one of our self-help books.
Seeds of Inspiration (Pty) Ltd t/a Lynette Beer | Registration Nr: 2011/134865/07
Po Box 41921, Moreleta Ridge, Pretoria, South Africa, 0044
Copyright © 2023 Digital Zoo Website Design Company - All Rights Reserved
Domain Registration
|
Email Address
|
Website Design
|
Graphic Design
|
Social Media Management
|
Search Engine Optimization
|
Online Marketing
|
Web App Developer