Geen mens ontgroei die behoefte na liefde en omgee nie!
Ek was die spreker by ‘n vrouekamp en mense dit was nou ‘n onvergeetlike ervaring!
Ria van der Merwe en haar span het die geleentheid georganiseer by Meulstroom net buite Bronkhorstspruit. Die 70 dames wat die kamp bygewoon het, is van die eerste oomblik af bederf met geskenkies, biltong, droëwors, vars vrugte en vele meer.
Na elke sessie is die vroue verras met ‘n geskenkie in sakkies wat om die slaapkamerdeure gehang het. Sommer met die intrapslag was daar vir elkeen ‘n botteltjie, doppie of veer met ‘n versie by. En net daar het die eerste wonderwerke van die naweek plaasgevind, want al het die organiseerders nie al die vroue geken nie, was elkeen se eerste geskenkie presies wat hul nodig gehad het, was elke vers tot op die letter gepas by elke vrou!
Lanklaas was ek tussen ‘n groep vroue wat mekaar sommer van die eerste oomblik af net aanvaar en geakkommodeer het. Dit was nie ‘n tipiese kerkkamp nie, veel eerder ‘n kom-onsgroei-saam-in-Christus-kamp. Die Heilige Gees was beslis aan die werk en almal is aangeraak. Soveel so dat 20 vrouens tot bekering gekom het en 12 van hulle in die rivier gedoop is. Al was dit in die middel van die winter… Wat ‘n voorreg was dit nie
vir my om deel hiervan te kon wees nie!
Dis mos lekker as mense hul verskille opsy kan skuif en net kan saamkuier om die Woord. Sonder die normale “my kerk doen dit anders” of “in ons gemeente maak ons nie sus of so nie.” Ek dink ons het juis meer sulke geleenthede nodig, waar ons net kan wees. Eerlik, opreg met mekaar kan kuier, die grense afbreek en met 1 Kor 13 se liefde na mekaar kan kyk en omsien.
Ek het hoop vir ons land en sy mense. Ek weet God is in beheer en daar gebeur elke dag nog ‘n klomp wonderwerke in en om ons. Mag jy ook vandag God se liefde ervaar soos wat 70 vroue dit by Meulstroom ervaar het. Onthou, dis die klein dingetjies wat ‘n verskil in ‘n ander se lewe kan maak. Wees jy vandag die een om wat die verskil maak en laat die Heilige Gees toe om deur jou iemand anders se hart aan te raak.
“ Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soo Ek julle liefgehad het. ”
Joh. 15:12 (NLV)







