Vriende laat die aarde draai

In Engels sê mense “money makes the world go round”, maar ek dink dis ons vriende wat dit doen. As ek so terugkyk op my lewe, was dit die mense waarmee ek vriendskapskonneksies het wat my lewenswa meer as een keer deur ’n oorvol drif help sleep het.

Ek dank die Here vir my vriende en wil graag self ’n vriendin na God se hart vir hulle wees. Daarom het ek Google nadergetrek, soos ek so dikwels doen, om seker te maak ek weet van al die vriendskappe waarvan die Bybel vertel om daaruit inspirasie te put.

Aan wie kan jy dadelik dink as ek oor mense in die Woord wat vriende was praat? Dawid en Jonatan, Job se maters, Jesus wat na Sy dissipels (ook ek en jy!) as Sy vriende verwys … Wie nog?

Dit het my onverhoeds getref dat die Bybel baie riglyne gee oor hoe belangrik vriendskap is en hoe ’n mens jou vriende moet behandel, maar die stories is min. Ander skrywers wat ’n mens op Google kan raakloop, trek dan Bybelkarakters nader waaroor ek eers twee keer moes gaan dink.

Die voorbeelde wat genoem word sluit Moses en Aäron, Rut en Naomi, en Maria en Elisabet in. Maar hulle was familie van mekaar, was my reaksie. Ander voorbeelde was Elia en Elisa, Paulus en Timoteus, en Barnabas en Johannes Markus. Hulle was kollegas, was my protes.

Maar miskien is dit juis so bedoel. Miskien moet ek minder pedanties wees oor wat die definisie van vriende is. Miskien leer hierdie Bybelse vriendskaplike optredes ons juis hoe onmisbaar sulke konneksies in ons familie, werksomgewings en gemeenskappe is.

Dit wil vir my lyk of mense nie hulle werk kan doen of hulle roeping kan vervul sonder die onderskraging van familievriende en/of werksvriende nie. Dit wil vir my lyk of God Homself aan mense sigbaar maak deur die optrede en gesindheid van familievriende en/of werksvriende.

Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Moses was te bang om met sy mense en met die Farao te gaan praat. Aäron was sy mondstuk en het die praatwerk gedoen (vgl. Eksodus 4:30 en 5:1, 2020-vertaling) sodat hy sy bevrydingstaak kon uitvoer.
  • Rut het aan haar skoonma “vasgeklou” (vgl. Rut 1:14, 2020-vertaling) en saam het die twee vroue ’n nuwe lewe en nuwe liefde in oënskynlik hopelose omstandighede gevind.
  • Elisabet het vir die ma van Jesus aan die begin van haar swangerskap die geestelike ondersteuning gegee om te verstaan Wie haar Baba was (vgl. Lukas 1:41-45).
  • Elia het Elisa opgelei en toe weggestuur voordat hy in die hemel opgeneem is, maar Elisa het sy roeping uitgestel en hardkoppig geweier om sy mentor alleen te los. So het Elisa die getuie van inspirerende wonderwerke geword wat hom in sy taak versterk het (vgl. 2 Konings 2:1-12).
  • Paulus het sy wysheid met Timoteus gedeel en was sy mentor tot dié mate dat hy sy junior kollega sy “seun” noem (vgl. 1 Korintiërs 4:17, Nuwe Vertaling). Sodoende is die Evangelie soveel verder versprei.
  • Barnabas het aanhou glo in Johannes Markus se potensiaal en hom saamgeneem op ’n sendingreis toe Paulus nie wou nie (vgl. Handelinge 15:36-39). Sy lojaliteit het goeie vrug afgewerp, want Johannes Markus het hom so goed van sy taak gekwyt dat Paulus hom weer later uitgenooi het om saam met hom te werk (vgl. 2 Timoteus 4:11).


Hoe kan ek en jy ’n goeie vriend of vriendin vir iemand in ons familie of by ons werk wees? In wie se potensiaal kan jy aanhou glo en wie het jou lojaliteit nodig? Vir wie kan jy ondersteun en aan wie se sy kan jy staan? Wie se las kan jy ligter maak? Wie se geloof kan jy versterk?

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Die snoeiskêr
Inspiration

Die snoeiskêr

As jy swaarkry kies, is daar fout met jou. Dis iets wat masochiste doen. Maar as jy ‘n berg wil klim, weet jy dat jy

Read More »
Control Your Emotions
Emotions

Control Your Emotions

Our emotions determine our thought processes and our thoughts determine our quality of life. This we know. When you feel good about yourself and whatever

Read More »
Hoe dan nou?
Inspiration

Hoe dan nou?

Ek is op die vliegtuig op pad Kaapstad toe. Langs my sit ‘n vrou. Langs haar sit haar man, ‘n man met ‘n groot dors.

Read More »