Vrede op aarde en in ons families ’n welbehae

Mense vertel my altyd die interessantste vakansiestories. Dikwels begin hulle met hoe lekker dit was, maar iewers glip daar altyd ’n kinkel in die kabel in.

Ek hoor van ’n Blou ouma wat ’n oupa in die motor ingeboender het omdat Skoonseun nie stiptelik om 12:30 die lamsboud aangesny het nie. ’n Rooi Pa wat Kersdag heeldag kwaad was nadat hy sy onwillige tienerkinders met ongenadige hand uit die bed geboender het vir die heel vroegste kerkdiens.

’n Groen vrou wat twee weke stilstuipe gehad het omdat haar man tydens hulle saamweestyd gedurig vriende oorgenooi het. ’n Geel student wat kosbare vriende wil opgee ná hulle saam gekamp het, want die groep wou net boeklees en slaap, terwyl sy wou stap, swem en tennisspeel.

Families en vriende spat uitmekaar in vetes oor die Kerstyd – ja, die Fees van vrede en versoening, die Fees van Lig kan vir party verhoudings ’n donker tyd van oorlog wees. Een van die redes is ons verskillende temperamente.

Ons is meer kwesbaar as ons tot stilstand kom en ons harte oopmaak vir saamwees met geliefdes op belangrike dae. Daarom moet ons saamgesels oor ons verwagtinge en herhaaldelik sê: Daar is nie ’n regte manier of ’n verkeerde manier nie, daar is net ONS manier.

Alle mense se ingebore behoefte aan alleen wees en aan saamwees met ander mense verskil. Blou en Groen het gewoon meer ruimte en roetine nodig. Geel voel al hoe lekkerder hoe meer hulle spontaan hulle spasie met ander mense deel en almal net doen wat vir hulle lekker is. En Rooi wil in beheer wees van wat gebeur.

Die volwassenes in ’n gesin moet regtig vir mekaar en veral vir die kinders verantwoordelikheid neem om al hierdie verskillende behoeftes in ag te neem. Sorg dat elkeen kans kry om te onttrek, te kuier met ander mense, met die gesin opwindende dinge te doen, met een geliefde op ’n slag uit te gaan – wat ook al julle verskillende behoeftes is.

Elkeen moet ’n beurt kry en almal moet bereid wees om by geleentheid aan te pas. Ja, dis werk, ja, dis vreemd aan die begin. Ek belowe jou die resultate gaan jou motiveer om aan te hou oefen om in mekaar se temperamente in te praat en julle vakansies volgens julle temperamente te beplan, te organiseer en te implementeer.

Dit gaan oor bietjie meer nadink, bietjie meer vrae vra en bietjie meer doelgerig besluite neem. Bietjie meer werk, bietjie meer verdraagsaamheid en baie meer vrede!

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs