Volkleur tradisies vir veerkragtigheid tydens verandering
Waaraan dink jy as jy die woord “tradisie” hoor of lees? Dalk aan volkspele, omies met konsertinas en tannies wat roep “balke toe”? Of dink jy aan ’n hoed vir kerk en handskoene wat dieselfde kleur as jou hoëhakskoene is?
Jy gee jou ouderdom dan beslis weg! Maar al dink jy, omdat jy jonger is, aan heeltemal ander voorbeelde, is die kanse steeds goed dat dit iets outyds of ouderwets is. Daar is mos maar ’n stukkie stowwerigheid aan die idee van die tradisionele, dat dit iets uit ’n vergange era is.
Net so kan dit natuurlik ook wees dat jy aan iets positiefs en nostalgies-mooi dink. Iets soos Kersfees op die plaas, of by die see in oupa en ouma se strandhuis … Dalk onthou jy jou skool se fakkelloop of ’n dooprok wat al deur drie generasies se eersgeborenes gebruik is.
Hoekom is tradisies en gewoontes noodsaaklik?
Wat jy ook al uit jou geskiedenis onthou, eintlik het sulke tradisies minder met die verlede te doen en meer met die toekoms. Want sien, die goeie en gesonde gewoontes wat ons vandag vestig, gaan ons staande hou in die storms van môre.
Tradisies skep stabiliteit en word deel van mense se identiteit. Dit laat hulle voel hulle is deel van ’n groep en behoort aan ’n gemeenskap met gedeelde waardes. Dit word deel van die vaste grond onder ’n mens se voete terwyl die wêreld op sy kop gedraai word.
Dit word deel van die emosionele intelligensie waarmee ons ons onsekerheid vasvat. Dis deel van die raamwerk wat ons ondersteun om veerkragtig terug te bons as die lewe ons platslaan.
Dis deel van die wysheid wat oor jare opgebou word en die kulturele ondersteuning waarmee mense koershou in ’n verwarrende omgewing. Gelowiges wat soms twyfel en dan nie vorentoe kan kyk nie, kan altyd terugkyk na die erfenis van die verlede en dit deur sekere gebruike in hulle geheues anker.
Dis veral waardevol vir kinders. Dit vergroot hulle selfvertroue omdat hulle verbind aan ’n groep voel en dit hulle emosioneel geborge laat voel. Hulle leer ook iets van roeping en ’n doelgerigte lewe – mits die erfenis, tradisies en gewoontes opbouend is.
Om so te besin oor die waarde van tradisies bevat groot woorde en komplekse idees, maar die voorbeelde is eintlik doodgewoon: gesinsetes, vakansievierings, godsdienstige feesdae, kunstefeeste en ander geleenthede waar gemeenskappe (of gemeentes) saamkom.
Dit hoef nie ingewikkeld te wees nie, solank dit gestruktureerd, herhalend en simbolies van aard is. Kerse aansteek, geskenke gee, sekere kossoorte voorberei, ornamente wat net vir spesifieke okkasies neergesit word, die sing van sekere liedere en spanbou altyd aan die begin van ’n jaar is maar enkele voorbeelde.
Hierdie aktiwiteite lyk dalk onbenullig, maar hulle is van groot sielkundige en emosionele waarde. Hulle voorspelbaarheid skep rusgewende orde as dinge chaoties voel.
Hoe meer hierdie aktiwiteite dieselfde bly, hoe meer gemaklik voel mense in hulle groep en dit verminder hulle gevoel van “verdwaal” of “ontuis” wees. Dit gee mense ’n gevoel van beheer wanneer dinge buite beheer voel.
Neurowetenskaplikes kan die verlaging van mense se stres en angs letterlik meet nadat hulle aan ’n ritueel of tradisionele aktiwiteit deelgeneem het. Hulle kan die goeie resultate lys soos wat mense ná hulle gereelde deelname meer veerkragtig word. Wees daarom asseblief ’n tradisieverbruiker en tradisieskepper.
Wat kan jy doen om meer tradisies te vestig?
Verandering is deel van die lewe, in jou gesin, werk, gemeente en gemeenskap. Dié ontwrigting lei noodwendig tot groei, maar terwyl dinge onseker is, kan ’n mens uit jou rituele en herhaalde gewoontes krag en stabiliteit put.
As jy kreatief, spontaan, entoesiasties en Geel is, kan jy …
- funksies en partytjies inisieer en reël op die maniere wat mense geliefd en verbind laat voel (en stroewe vergaderings op gepaste maniere opvrolik sodat mense ook hier ’n konneksie met mekaar bou)
- maniere uitdink om ou, konserwatiewe gewoontes te hernu sodat die nuwe generasies dit ook geniet en waardeer
- mense aanmoedig om deel te neem en moeite doen om almal te betrek op ’n manier wat by hulle pas
As jy doelgerig, aksiegedrewe, ’n leier en Rooi is, kan jy …
- seker maak dat wat gebeur inderdaad bevorderlik vir ’n bepaalde groep se nalatenskap is en die effektiwiteit en produktiwiteit van die groep verhoog
- die spreekbuis wees wat die moontlike konfliksituasies hanteer en die debatte voer wat dalk nodig is om mense aan die beweeg te kry
- goeie planne beraam en suksesvolle strategieë implementeer terwyl jy seker maak dat die tradisie niemand te na kom, verneder of uitsluit nie
As jy empaties en lojaal is, baie vir jou mense omgee en Groen is, kan jy …
- sorg dat vieringe en rituele konsekwent op dieselfde manier gebeur, mense se samehorigheid bevorder en ’n gevoel van eenheid en omgee versterk deur byvoorbeeld resepte en formuliere te bewaar of die regte ding op die regte tyd te sê
- die staatmaker wees wat help, deelneem, altyd opdaag, die leiers ondersteun, sorg dat verrigtinge seepglad verloop en sodoende die sogenaamde stille krag wees wat ’n tradisie in standhou
- keer dat verandering te vinnig geïmplementeer word en op jou kalm, rustige manier briek aandraai sodat wat belangrik en opbouend is, bewaar kan bly
As jy fokus op detail, ordelik, gestruktureerd en Blou is, kan jy …
- ’n manier uitwerk hoe erfenis bewaar kan word en fokus op dokumentasie, deeglike beplanning en finansiële bestuur (waar dit van toepassing is)
- seker maak dat die aktiwiteite die regte waardes kommunikeer en met jou sensitiewe aanvoeling en kreatiwiteit sorg dat mense die simboliek en boodskap verstaan
- feite en historiese korrektheid navors, mense se verwagtinge bestuur en kontroleer dat mense die reëls, wette, norme en waardes wat van toepassing is nakom
Hoe die presiese praktiese, alledaagse tradisies in jou huis, werk, gemeente, skool, of gemeenskap gaan lyk, is deel van die uitdaging om mens in die 21ste eeu te wees. Daar is nie meer enkele leiers, gesinshoofde of base wat alles namens ons besluit en uitvoer nie. Dis nou in ons hande om ’n gesonde gemeenskap met ’n kosbare erfenis te skep.