Vier woorde, vier kleure en om die liefde te vier

Die liedjie “Vier woorde” van Tarryn Lamb is vir my baie mooi, maar ek het nooit goed opgelet na die lirieke nie. Net maar nog ’n liedjie oor ’n gebroke hart, het ek gedink. Maar toe kyk ek na ’n potgooi van Simon Sinek op YouTube en hy sit my gedagtes aan die gang oor hoekom die frase “Ek’s lief vir jou” so ’n krities belangrike frase is.

Dis nou al ou nuus dat eensaamheid wêreldwyd een van die grootste oorsake van siektes en sterftes is. Die ellendige pandemie van 2020 kry die skuld, maar hoewel ons sedertdien weer heel normaal leef, is daar ongelukkig geen beterskap, geen verbeterde statistieke oor eensaamheid nie. Inteendeel, dit wil lyk of mense, jonk en oud, toenemend in isolasie leef.

Maklike antwoorde en vinnige oplossings is daar nie. Tog is een van die redes hoekom ons mekaar so “mis” as dit kom by konneksies, natuurlik ons verskillende temperamente.  As ’n mens nie in iemand se ingebore menswees inpraat nie, gebeur dit waarvan die mooie Tarryn so mooi sing:

Vier woorde, jy kry en verloor dit: Ek’s lief vir jou.
Jy’t gesê dis vir ewig, maar waar is jy nou?

Die liedjie handel oor romantiese liefde. Dit is egter ewe waar van gesinne, families, vriende en selfs omgeegroepe in gemeentes dat mense mekaar verloor en uitroep: “Waar is jy nou?”.

Die Brits-Amerikaanse skrywer en motiveringspreker, Simon Sinek (wat as kind ook in Johannesburg gewoon het!) is bekend vir sy optimisme en fokus op positiewe leierskap. Die laaste paar jaar het hy ook aandag begin gee aan eensaamheid. Hy sê hy moes, want dit het so ’n groot, negatiewe impak op die besighede waarmee hy te doen kry.

Trouens, hy praat heel eerlik oor sy eie belewenisse rondom alleen-wees. Iets wat in sy lewe ’n groot verskil gemaak het, sê hy, was om meer gereeld vir mense in sy persoonlike lewe te sê dat hy lief is vir hulle. (Nie by die werk nie, hoor!)

Hy sê ’n mens moet dit presies so sê: “Ek’s lief vir jou.” Nie “lief jou”, of “love you” of enige ander verkorte manier of kodetaal nie. Die presiese vier woorde.

Sy mansvriende het aanvanklik gedink hy is die kluts kwyt as hy hulle met hierdie woorde gegroet het wanneer hulle uitmekaargegaan het. Gaandeweg het hulle ontspan. So teen die derde keer het hulle begin om hom met die hand of met ’n mannedruk te groet. En later het hulle dit begin terugsê.

Hulle het hom vertel hoe vreemd dit vir hulle was om dit te hoor, maar hoe hulle kon voel dat hulle spiere onwillekeurig ontspan. Hulle het hom meer vertrou en met meer vrymoedigheid hulle gevoelens en belewenisse met hom gedeel sonder om ’n vals front van krag en sukses voor te hou. Uiteraard het die vriendskappe verdiep en ’n hoër kwaliteit aangeneem.

Vir ’n Geel mens sal dit alles doodnormaal voel. Geel mense wys maklik hulle gevoelens en is ook glad nie bang om drukkies uit te deel nie. Dis die ander drie kleure tussen ons geliefdes, vriende, familie en geloofskonneksies wat asseblief tog meer moet sê of wys dat hulle van ons hou en dat hulle ons waardeer.

Rooi mense wat niks van emosies hou nie, sal moet oefen en leer om toegeneentheid te wys. Beskou dit as ’n taak of doelwit vir groter sukses, want regtig: Ons almal se gesondheid en produktiwiteit sal verbeter. Neem die leiding en stel die voorbeeld.

Groen en Blou mense sal hulle sosiale vrese en gereserveerdheid moet oorkom. Julle sal sien dat die hemel nie neerstort as jy openhartig en sagmoedig hierdie woorde vir mense sê terwyl jy hulle in die oë kyk nie. Los maar die drukkies as dit te veel is, praat net!

Miskien kan Valentynsdag ons almal jaarliks herinner en aanmoedig om die geleenthede en/of die maniere te vind om die mense om ons te seën met die belangrikste vier woorde vir menslike welsyn.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs