Verander die generasiegaping in ’n generasiebrug

In my tienerjare was sigbare en hoorbare rebellie nie juis toegelaat nie. Ek moes maar my protes stilletjies in my gedagtes verwoord. Want, glo my, die “oumense” was ook in my tyd outyds, ouderwets en “agter die tyd”.

Ek het veral my oë gerol as ’n oom of ’n tannie iets gesê het soos: “In my dae het ons nie sus of so gemaak nie en alles was soveel beter.” Of: “Ai, ek verlang so na die goeie ou dae toe jongmense nog maniere gehad het en respek vir hulle meerderes gehad het.”

Dit was baie dekades gelede, maar my oogspiertjies is nou nog sterk van al daardie gerol. Daarom was dit vir my ’n skok toe ek min of meer dieselfde woorde oor hoe ek nie deesdae se jonger werkers lekker verstaan nie, uit my eie mond hoor. Ek het amper my oë vir myself gerol!

Dis nou amptelik: Ek is nie meer ’n jong rebel nie, ek is een van die ouer garde. Ek beleef ook ’n gaping tussen my en die jonger generasie. Maar ’n klakous wat nie kan saambeweeg met veranderende tye is ek vir seker nie!

Die bril waardeur ek na die jonger garde kyk – veral in die werkplek – het dus skoonmaak nodig. Ek wil beslis nie soos die ooms en tannies uit my jeug dink en klink nie. Dinge verander mos net as jy self verander. Dinge word mos net beter as jy self ’n beter perspektief kry.

George Orwell het gesê elke generasie dink hulle is slimmer as die een voor hulle en wyser as die een wat ná hulle gaan kom. Ons wat ouer is moet dus begin met ’n tiksel meer nederigheid oor ons eie swakpunte en ’n raps meer respek vir die kennis en kundigheid wat in álle generasies teenwoordig is.

Mense maak sterker konneksies as hulle mekaar se temperamente verstaan en respekteer en inpraat in mekaar se sterkpunte. Net so kan ons by die werk die generasiegapings oorbrug as ons begrip en respek vir elke groep se bydrae het.

Ons seniors kom uit twee generasiegroepe. Mense soos ek wat voor 1965 gebore is, is Boomers. Ek is net-net deel van hierdie groep en die naam verskaf my plesier, want ek hou mos van lekker hard lag en om luidkeels oor die Here te getuig.

Boomers se sterkpunte by die werk is hulle hoë produktiwiteit en hardwerkendheid. Ons is baie goeie “spanspelers” en omdat ons soveel lewenservaring het kan ons goeie mentors wees.

As jy tussen 1965 en 1980 gebore is, is jy deel van Generasie X. Ek voel en funksioneer by die werk soos ’n X’er, want hierdie groep is goeie bestuurders wat weet hoe om projekte te dryf, verhoudings te bou en in ’n groep of span te werk. Generasie X weet ook hoe om inkomste te genereer en is knap met probleemoplossing.

Die jong klomp kom min of meer uit twee groepe. Generasie Y is die Millenniërs wat tussen 1980 en 1995 gebore is. Generasie Z is die Zoomers wat tussen 1996 en 2010 in die wêreld gekom het. Uiteraard sluit albei groepe se sterkpunte in dat hulle besonder tegnologies vaardig is.

Die generasies ná Generasie X word moeiliker om van mekaar te onderskei, maar hulle waai soos vars briesies deur stowwerige kantoorgeboue. Hulle dring aan op ’n balans tussen werk en ’n persoonlike lewe en vra vrae oor die gewetenlose najaag van geld.

Hulle is gefokus op diversiteit en om seker te maak mense word nie deur onregverdige behandeling in hulle geleenthede beperk nie. Hulle is ook meer gefokus op samewerking met ander maatskappye of deskundiges in plaas daarvan om kennis of ’n produk te monopoliseer.

Hulle is leergierig en pas maklik aan by verandering en (natuurlik) nuwe tegnologie. Hulle is dikwels die dryfkrag agter ongewone oplossings en idees wat hulle eie werkplek tot voordeel strek, maar altyd met ’n sterk sosiale verantwoordelikheidsgevoel.

Ek weet nie van jou nie, maar ek het baie hoop vir ons land met sulke werknemers en werkgewers!

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Are you an over-giver?
Inspiration

Are you an over-giver?

The joy of giving is a slogan easily misused by money-making retailers at Christmas time and emotional celebrations like Mother’s and Father’s Day. Simply because

Read More »
Empathy
Emotions

Empathy

Empathy has been identified as an essential component in building meaningful and trusting relationships. It is a vital ingredient of successful marriages but also of

Read More »
Wat jaag jou?
Inspiration

Wat jaag jou?

In my kleintyd was daar ‘n Chihuahua-brak in ons straat. Sy naam was Pim. ‘n Mens kon nie help om jou te verkyk aan die

Read More »