‘n Mens word nie met karakter gebore nie. Ja, jy het beslis sekere ingebore persoonlikheidseienskappe wat deel uitmaak van jou gene, maar karakter is iets waaraan jy moet werk. En dit is ‘n kernbestanddeel as jy wil word wie jy bestem is om te wees.
In uitdagings en krisisse kom ‘n mens se karakter na vore – dit wat jy is en die innerlike krag wat jy geoefen en bymekaar gemaak het. Byna soos met fiks word, wys ‘n krisis jou spierkrag en jou uithouvermoë uit.
Ek deel graag met julle ‘n paar kritise vrae wat jou sal help met die karakter-bouproses:
- Wat gee sin en betekenis aan jou lewe? Maak jy tyd om die dinge wat vir jou belangrik is, duidelik te formuleer en meet jy jouself gereeld daaraan? Dis so maklik om na ‘n moeilike dag in selfbejammering te verval en dan op die verlede te fokus. Dit wat betekenis gee aan jou lewe, sal jou oë op die toekoms gerig hou.
- Hoeveel entoesiasme het jy nog in jou are vir jou ideale en doelwitte? Onthou, net 10% van ‘n mens se motivering kom van buite – 90% kom van binne en word deur jouself gegenereer.
- Watter vaardighede kan jy aanleer of ontwikkel om ‘n meester op jou gebeid te word? Het jy die prosesse al opgebreek in doenbare stappe met sperdatums by?
- Hoe lyk jou self-dissipline? Dis altyd makliker gesê as gedaan, en ‘n mens moet jouself toelaat om foute te maak – en daaruit te leer. Ek het al gevind dat dit help as ek myself herinner aan die feit dat ander op my reken.
- Wil ek gewoon of buitengewoon wees? Is ek bereid om die ekstra myl vir myself te loop?
- Hoe gereeld kyk jy in die spieël? Hoe sien ek myself en hoe sien ander my – in hoe ek lyk maar ook in wat ek doen? Karakter bou het te make met die uitleef van integriteit, eerlikheid en gesonde beginsels en waardes. Is dit wat mense sien, wie jy is?







