En hier sit ons, onder slot en grendel – en om die een of ander rede, is daar ‘n gevoel van oorgawe en selfs vrede, wat die aflosstokkie by die onsekerheid van die afgelope weke oorgeneem het.
 
Want ons weet dit moet. Anders staar ons ‘n ondenkbare ramp in die gesig. 
 
Laat ons mekaar nie flous nie – die uitdagings en angs oor die ekonomie het nie minder geword nie, al het pres. Ramaphosa beloftes van vergoeding gemaak. Ons, wat in die mens-bedryf is, gaan vir seker die impak van die Corona-virus aan ons sakke voel. Maar wanneer ‘n mens moet kies tussen jou sak en mense-lewens, is daar tog nie ‘n keuse nie.
 
Wat my hart warm laat klop, is die skielike positiwiteit onder ons mense. Ek luister oor die radio na ‘n oud-ambassadeur wat openlik vertel hoe sy en haar twee kinders positief getoets het vir Covid 19 nadat hulle met mense uit Europa gekuier het. Hulle was baie siek en het goor gevoel. Haar dogter (in die twintigs) is steeds siek en onder behandeling. Syself wag nog vir die uitslae van haar toets, maar sy weet dat sy dit onder lede het.
 
Sy vertel haar verhaal sonder paniek. Realisties maar vol hoop. En in die proses deel sy die hoop met die land se luisteraars – en sy gee ook vir my perspektief op die pandemie.
 
Landwyd maak kerke planne om internetdienste aan te bied. Ouetehuise deel nommers van oumense aan selgroepe uit wat onderneem om mense wat alleen is, daagliks te bemoedig. Vriende maak afsprake om met die Zoom-app saam op ‘n afgesproke tyd ‘n glas wyn te drink en voor hulle laptops te kuier. ‘n Vriendin se drie jong seuns daag mekaar uit om elke dag ‘n internet-gymsessie te doen – met ‘n prys aan die einde.
 
Daar is meer as ‘n virus in die lug. Daar is liefde en begrip en vir die eerste keer in my lewe, ‘n warm gevoel dat ek ook deel is van ‘n wêreldwye familie.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs