So ‘n ruk terug was ek weer in die bevoorregte posisie om vriende se baba in ‘n kerk aan die Here toe te wy. Terwyl ek die kleinding vashou, toe dink ek weer aan Matt 18: 6 waar Jesus self gesê het dat dit beter is vir iemand om met ‘n meulsteen om sy nek in die diepsee te verdrink as om ‘n kind te laat struikel.
Watter groot verantwoordelikheid het ons as volwassenes nie? Volwassenes ja, want dit sluit ouers, grootouers, ooms, tantes, onderwysers en broodjie-uitdeel tannies in. Ons hoor so baie die geykte uitdrukking, kinders is die toekoms, maar leef ons dit regtig uit?
Hoeveel maal kyk ons net bo-oor die kinders? Is daar nie tyd om te luister as ons Geel kind met opgewonde ogies vir ons ‘n storie wil vertel nie? Raak ons ongeduldig wanneer ons Vredevolle Groen seuntjie te stadig na ons sin in die winkels dwaal? Sien ons nie raak dat die Blou kind met sy stil, diep geaardheid smag na bietjie alleentyd saam met ons nie? Raas ons met die Rooi kind dat hy moet stilbly en sy plek moet ken, terwyl hy met sy natuurlike leierskapvaardighede en kennis eintlik ‘n verskil kon maak?
Elke kind is uniek geskape met ‘n spesifieke temperament samestelling. Jou oudste en jongste kan en sal nooit dieselfde wees nie. Hulle kyk tien teen een anders na die wêreld as jy en ervaar dinge anders. Moet nooit kinders met mekaar vergelyk nie. Moet nooit die een voortrek wie se geaardheid meer met joune ooreenstem as die ander nie. Dit kan lewenslange negatiewe gevolge vir hul inhou. Jaloesie kan ‘n broeinde sweer word wat later jare in haat, nyd, woede en selfs moord kan uitbars. ‘n Ewigdurende vergelyking met boet of sus kan maak dat jou kind op 30 steeds ‘n lae selfbeeld het, steeds te bang is om sy natuurlike talente en temperament uit te leef en in ‘n beroep beland wat hy met elke greintjie van sy wese verafsku.
Gee vandag gelyke aandag aan jou kinders. Help hulle vandag om die lewe te trotseer met ‘n gesonde selfbeeld binne in hul natuurlike temperamente en hulle, en die res van die samelewing, sal later die goeie resultate daarvan beleef.







