Sien die rooivlaggies op jou lewensreis raak!

Sommige besluite beïnvloed slegs die oomblik, ander besluite die res van jou lewe!


Vanoggend vat ek die draai snelweg se kant toe. Daar is borde langs die pad wat aandui werkers is besig, voertuie moet stadiger. So 300 m verder sien ek die span mense wat besig om langs die pad te skoffel. Die gras weg te werk sodat die noodbaan weer oop kan wees. ‘n Entjie voor die werkers, by hulle en net na hulle, staan daar vrouens met rooi vlaggies wat hulle verwoed swaai. Ek kry die boodskap. Hier moet jy asseblief stadiger ry, versigtiger wees, anders is ons en ons medewerkers in gevaar.

Is dit nie maar hoe die lewe ook is nie? Party dae kan mens mos so op ‘n drafstap besig wees dat jy nie altyd die gevaartekens langs die lewenspad sien nie. Nie sien as jy dalk aftrap en langs die spoor begin draf nie. Dis dan wanneer jy daardie goeie vriendinne moet hê wat vir jou die rooi vlaggie kan waai, sodat jy kan stadiger ry. Dalk selfs tot stilstand kom.

Jy sien, ons het almal sulke vriende nodig wat jou goed ken en sommer op ‘n myl kan sien as jy nie jouself is nie. Die mense wat jy genoeg vertrou om te luister as hulle praat. Ek weet, dis nie altyd maklik om te luister nie. Nie maklik om raad te aanvaar of selfs hulp nie. Tog is dit nodig. Op ons lewensreis is daar baie mense langs die pad. Party is sommer net advertensies, ignoreer hulle liewers, want hulle lei gewoonlik na vreemde wegdraai paaie. Ander is vertrouelinge, geesgenote, maar ook mentors. Dis by hulle wat jy leer hoe om te groei in geloof en in jou daaglikse menswees.

Neem vandag die rooivlaggies in ag… hetsy dit oor jou werk, gesondheid of verhoudings is, en gaan stadiger om die draaie!

“ Eerlike raad van ‘n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook ”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs