Rustige mense kán suksesvol wees

Dis so ‘n wanopvatting dat suksesvolle mense altyd besig is. Ons praat so maklik met groot bewondering van die ‘besige by’ wat so baie vermag en sonder om dit hardop te sê, brandmerk ons ‘n stadige, rustige mens as ‘lui’ of onproduktief.

Wat is “gelukkig”of “suksesvol” vir jou? Meet jy enige van die twee terme aan finansiële sukses, gewildheid of bekendheid? Aan wat ry jy, waar bly jy, wat kry jy?

Ek ken ‘n hele paar uiters suksesvolle mense – gemeet aan hulle prestasies, wat hulle in die lewe bereik het, maar ook wat hulle vir ander beteken. As ek moet sê wat ek by hulle almal raaksien, is dit dat hulle met ‘n innerlike vrede lewe, en dat hulle, ondanks besige programme, gebalanseerde lewens lei. Hulle maak tyd vir vriende en geliefdes en as jy raad nodig het, kan jy maar gaan aanklop.

Konstante besig-wees steel jou energie maar ook jou kreatiwiteit en vermoë om probleme op te los. Dit kan jou selfs immobiliseer en heeltemal onproduktief maak. Van die dinge wat mense onrustig maak, is die knaende stemme wat sê dat jy nie met jou geld gaan uitkom nie, dat jy of jou kinders onder-presteer of afsteek by die bure. 

Wanneer jy vrede in jou gemoed het, kry jy perspektief en het materiële begeertes nie so ‘n greep op jou nie. Jy besef dat jy met heelwat minder kan klaarkom en meet jouself nie aan ander nie. Dis wanneer jy kan fokus op jou drome en doelwitte, jou lewenswaardes en jou dieper behoeftes. Wanneer jy innerlike vrede gevind het, word dit ook byna tweede natuur om uit te reik na ander.

Gaan kyk ‘n slag na jou rolmodelle (kies liefs mense uit die gewone lewe en nie TV-sterre nie). Omring jouself en maak vriende met rustige, vredeliewende mense. Laat hulle op jou afvryf. Leer hulle van nader ken en sien raak dat hulle die ware suksesvolle mense is wat weet hoe om by lewensgeluk uit te kom.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Sulke rakkers!
Inspiration

Sulke rakkers!

ʼn Paar jaar gelede, nadat ek vroegoggend van die gimnasium by die huis gekom het, was ek onkant betrap toe die huis se deur wawyd

Read More »