Simpatie is jou pyn in my hart.
Dit is laatmiddag, sy sit hier voor my, ʼn formidabele en suksesvolle vrou, haar oë is rooi gehuil en opgeswel. Haar woorde is min, haar trane onbeheersd.
“Ek het nie hiervoor gesoek nie, ek wou aanvanklik nie, ek was eintlik op so ʼn goeie plek in my lewe. Ek het nie toe besluit nie en het ook nie nou besluit nie. Dit was sommer net so vir my besluit. Hy het gevat toe dit hom gepas het en hy het gelos ook toe dit hom gepas het. Het ek dan geen keuse nie; mag ek nie ook ʼn sê hê nie? Damn man, ek het intussen lief geraak vir hom, hy was my hele, hele lewe!” Haar hele lyf ruk soos sy huil.
Ek sluk die knop in my keel, want ek wil sommer saam huil. Voor my sit ʼn mens met ʼn hart vol pyn. Ek besef dat pyn werklik ʼn duisend tande het en as daardie tande jou hart van vlees skeur laat dit jou emosioneel naak.
Met ʼn huilende hart kyk ek vir haar en bid saggies: “Ag Here gee asseblief vir my woorde wat kan troos”. Ek besef God gebruik gebroke dinge. Ek het eenkeer gelees dat die grond gebreek moet word om ʼn oes op te lewer; gebroke wolke laat dit reën,gebroke graan voorsien ons van brood; gebroke brood gee vir ons krag. Dit was die gebroke albasterfles wat die heerlike wierook afgee; dit is die gebroke Petrus wat bitterlik ween wat tot groter krag as ooit verhef word.
Soms word die tragedies wat dreig om ons harte te breek, die basis van iets baie kosbaarder en mooier in ons lewe. Wees dus geduldig met die pyne en seerkry wat jy moet hanteer. Hulle kan die bron word van genesing, hulp en skoonheid.
“ Luister na My, nageslag van Jakob, almal oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou en julle red. ”
Jes. 46: 3-4







