Iemand het vir my ’n video aangestuur wat lyk my baie gewild op Instagram was. Dit wys hoe ’n klein dogtertjie ’n gimnastiese tuimelbeweging doen en dan regop op haar afrigter se hande te lande moet kom en op sy een hand staande moet bly.
Dit lyk vir my na ’n baie moeilike toertjie en die lyfie verloor dan ook haar ewewig. Mense klap hande en die afrigter sit haar neer en vra haar om weer te probeer. Dit ontstel haar só dat sy uitbars in trane. Ag, ’n mens wens jy kan deur die skerm vir haar ’n drukkie gee en haar troos.
Haar afrigter is ook simpatiek en tel haar weer op om haar te help. Hy hou aan beduie dat sy weer moet probeer. Sy kry meer as een geleentheid om die beweging te doen en nou is dit haar kans vir ’n tweede poging. Maar sy skud haar koppie dat die traantjies spat. Sy wil nie!
Dan sit hy haar neer, hurk af sodat hy in haar ogies kan kyk en praat ernstig met haar. Haar spanmaats met dieselfde klubsweetpakke aan wat baie ouer as sy lyk, klap intussen vir haar hande onder aanmoediging van nog ’n ander afrigter.
Almal glimlag en knik hulle koppe om te wys: “Ja, toe, probeer nog ’n keer. Dis oukei!” Ook die toeskouers, vermoedelik ’n paar ma’s en pa’s klap hande en moedig die gimnassie aan. Met haar lyfie wat nog ruk van die huil, knik die koppie met die twee bokstertjies dan ja.
Sy probeer weer … en voer die tuimelbeweging perfek uit en hou haar balans in die afrigter se hand! Die mense juig, klap hande en die afrigters dans omtrent van vreugde oor haar sukses. Die kleine lyfie straal sommer van trots.
In die kommentaarseksie loof mense die goeie leierskap van die afrigter en ek stem 100% saam. Ware leiers tel mense op en moedig hulle tot hoër hoogtes aan. Om weer te probeer, om op te staan as jy geval het – leiers inspireer mense hiertoe.
Maar dis nie al wat nodig is nie. Ek sien ook raak dat die omstanders, die ander afrigters en die gimnassie se eie groepie maats se positiewe optrede ’n groot rol in hierdie mooi voorbeeld gespeel het. Daar was geen veroordeling, verwerping of kritiek nie.
Niemand het na vore getree met allerhande slim planne of voorstelle hoe sy dit beter kan doen nie. Niemand het haar foute vir haar uitgewys of gesê sy moet maar liewer opgee nie. Niemand het voorgestel dat sy ’n ander sportsoort aanpak of wag tot sy ouer is nie. Niemand het gesê sy moet maar aanvaar dat hierdie kompetisie nie vir haar bedoel is nie.
Almal rondom die gimnassie het aan haar gekommunikeer dat weer probeer nie net normaal, goed en reg is nie, maar selfs lofwaardig. Haar sukses word toe almal se vreugde. Gedeelde sukkel is halwe sukkel en gedeelde sukses ná ’n weer-probeer is dubbele triomf.
Dink net, as almal passief gebly het of dalk selfs hulle afkeuring gewys het, kon die afrigter maar praat tot hy blou was, die dogtertjie sou heel moontlik aanhou weier het. Leiers en mentors is nodig, maar so ook die aanvaarding, aanmoediging en ondersteuning van die mense om die persoon wat weer moet probeer en moet opstaan uit ’n krisis.







