Ek is nie van nature ‘n geduldige mens nie. Daarvoor is ek heeltemal te haastig. Ek ken ‘n paar geduldige mense en ek het net die grootste bewondering vir hulle manier van dink en doen. Ek het al gewens dat ek ‘n kursus in geduld kon doen, want dit sal my nie net met menseverhoudinge help nie, maar beslis ook met bestuur in druk verkeer.
Ek kan verstaan waarom Paulus geduld as een van die Vrugte van die Gees gelys het – miskien het hyself daarmee gesukkel. Want dis beslis een van die moeilikste karaktereienskappe om aan te leer of te oefen.
Oom Stefaans se naam kon Job gewees het. Want hy is van geduld aanmekaargesit. En wat hom so ‘n interessante mens maak, is dat hy nie ‘n tipiese Groen temperament het nie, inteendeel. Hy is Geel en Rooi – lief vir mense maar ook ‘n dinamiese doener. Hy het sy eerste vrou in sy vroeë veertigs aan kanker verloor en het lank gewag voordat hy weer vrou gevat het. Vir ten minste agt jaar lank het hy sy drie klein kindertjies self grootgemaak, met die hulp van inmengerige familielede.
Toe ek hom eendag uitvra oor sy blymoedigheid en sy geduld, was sy eerlike antwoord: “Ek het geleer dat die lewe makliker word wanneer jy dit met geduld aanpak. En dat daar geen ander manier is om vrede in jou gemoed te kry nie.
“Eintlik het my vyfjarige dogtertjie my die geduld-les geleer. Kort na haar ma se dood, was ek druk besig met ‘n dringende verslag. My jongste was elke vyf minute in my studeerkamer met ‘n vragie of ‘n drukkie. Ek het begin stres maar net voordat ek dit kon wys, het die uitdrukking in haar oë my onkant gevang. Ek kon haar onsekerheid, onskuld en opregte liefde nie miskyk nie. My ongeduld het skielik in ‘n diepe dankbaarheid verander.
“Net daar het ek besef dat ‘n mens geduld bykry wanneer jy onskuld en onsekerheid in ander mense probeer raaksien. Vra jouself of hierdie ding in die lig van lewe of dood belangrik is. Dan haal jy diep asem, laat geduld oor jou spoel en voel die vrede.”







