Ons weet baie dinge. Ons weet dat die emosionele brein ‘n gevaarlike deel van ons anatomie is. Hy reageer 80 000 keer vinniger as die rasionele brein en in tye van groot gevaar laat hy ons oorleef. Maar wanneer dit kom by gesonde verstand en rasionele denke, moet ons hom eenkant toe skuif.
Dit geld veral wanneer ons rasionele keuses moet maak of besluite moet neem. Van die moeilikste besluite om te neem, is dié wat ons eie lewens raak. Want dis wanneer ons die emosie byklits en skaars agterkom hoe min rasionele objektiwiteit die besluit beïnvloed.
Moes jy al ooit vir ‘n vriendin of ‘n goeie kollega help om perspektief te kry en ‘n belangrike besluit te neem? As die persoon na aan jou is, is jou normale manier van doen om al die faktore te oorweeg en met ‘n antwoord te kom wat sy of haar beste belange op die hart sal dra – nie waar nie?
Hierdie “derde-party-objektiwiteit” is wat nodig is vir gesonde besluite oor jou eie lewe, sê die manne en vroue wat weet. Wanneer ons oor ons eie doen en late moet besluit, knoop ons so maklik emosionele strikke by. Ons wonder wie almal vir ons gaan kwaad wees oor die besluit, wie dalk te na gekom mag voel en of iemand nie gaan dink dat ons swak of dom is nie.
Om met objektiwiteit besluite te neem, is om vir jouself te sê: “Lynette moet doen of kies wat vir Lynette die beste gaan wees.” Want dis immers Lynette wat verantwoordelikheid vir haar lewe en besluite moet neem.
Wanneer jy volgende keer voor ‘n groot besluit te staan kom en jy sukkel met objektiwiteit, maak asof jy jou eie beste vriendin is en sê: “Vandag kies en doen ek wat in my beste belang is. Want net soos ek ander nie wil benadeel nie, moet ek ten minste netsoveel tel as die ‘ander.’..







