Uiterstes kom vanself, balans is die uitdaging!
Ek was bevoorreg om as spreker op te tree by Faith Fellowship. Ek was netjies aangetrek, gesykous met stilettos. My voete is gedaan en ek sit op vlug JE 548 vanaf PE na Johannesburg en dink aan en oor God, en ook oor myself. Ek dink dat ek eers 21:00 land en more 5:00 weer die pad Nelspruit toe aanvat.
Ek besef dat God mense soek met stamina. Mense wat nie opgee wanneer hulle moeg is of soms ʼn paar onverwagse klappe vanaf die kantlyn kry nie. Ek dink aan die profeet Elia, sy groot oorwinning oor die baalpriesters waarna hy moeg en uitgeput die woestyn invlug waar hy wil opgee op die lewe.
So het ons almal ons eie uitdagings en dreig ons ook soms om die wildernis in te vlug en boedel oor te gee.
Die uithouvermoë van die mens laat my onwillekeurig dink aan die Jagluiperd. Die is aërodinamies gebou vir spoed en kan van 0 tot 64 km versnel in slegs 3 tree tot top snelheid van 112 km in sekondes. Wanneer hy hardloop raak slegs een voet op ʼn slag die grond. Vir 7-8 meter poses raak geen voet die grond nie soos sy liggaam gestrek is en feitlik dubbel kan vou. Ongelukkig kan hy slegs 5.5 kilometer hardloop voordat hy totaal uitgeput is. Die jagluiperd het ʼn baie klein hart, onproporsioneel tot die grootte van sy lyf. Dus raak hy gou moeg en indien hy nie sy prooi vang tydens die eerste probeerslag nie sal hy honger ly.
So is dit ook met ons. Dit voel soms of ons liggame nie kan byhou met die ritme van ons hart nie; dit wat ons werklik oor droom, maar dit is juis dan wanneer ons moet volhard, moet aanhou glo, hoop en vertrou.
“ Die Here het vir my ‘n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen .”
Jes.49:5







