Ons kan in ‘n onbewaakte oomblik dinge sê of doen wat ons lewenslank kan treiter!
Hierdie stukkie raad kan deur enige een op enige plek toegepas word. Persoonlik dink ek die lewe sal soveel makliker wees as almal dit maar net geweet en toegepas het. Jy sien, lank terug het ek geleer hoe om enige situasie te ontlont en die grimmigheid af te weer soos wat die Bybel sê.
Ek gaan vir jou ook die tegniek leer om chaos te vermy wat slegs sekondes duur. Sal jy dit gebruik? Hierdie tegniek is van toepassing op jou persoonlike verhoudings tuis, by die werk, kerk, sportveld, universiteit, sosiale kringe, waar jy jou ookal mag bevind. Dit sal jou help om meer in die oomblik te leef, eerder as om jou tyd in die verlede of toekoms te verwyl. Dit sal ook jou lewenskwaliteit verhoog. Ons noem dit die 90 sekonde reël.
Jy weet mos hulle sê eerste indrukke tel. Sorg daarom dat jy doelbewus vriendelik, oop en tegemoetkomend is wanneer jy iemand benader. Jy sien, ons sukkel voortdurend met die emosioneel denkende brein wat 80 000 keer vinniger as die logiesdenkende brein reageer. Dit maak dat ons baie keer iets sê of iemand in ‘n onbewaakte oomblik ‘n kyk gee wat ons later berou. Daarom moet ons leer om te stop en te dink voordat ons optree.
Ek het grootgeword in ‘n huis waar my pa ses minute oor 5 in die huis gestap het na werk. Ongeveer 30 minute voor hy huis toe gekom het, het my ma ons ernstig aangespreek om alles wat rondlê op te tel en skoon te maak. Haar motivering was altyd dat dit vir pappie lekker moet wees om huis toe te kom. Daarna het sy voor die spieël gaan sit en ‘n roompie en lippies aangesit en dan natuurlik ook ietsie gespuit om lekker te ruik.
Ek moes sorg dat die ketel kook en die koffie geskink word nadat die groetery agter die rug was. Daarna het hulle twee eers gesit en koffie drink voor ons aangesit het vir ete. Hierdie ritueel het my by gebly oor die jare en so handhaaf ek steeds van hierdie beginsels in my eie persoonlike lewe.
Hoe heerlik is dit wanneer iemand jou in die eerste 90 sekondes van ontmoeting hartlik, opgewek en vrolik groet? Dit laat ‘n mens sommer dadelik voel dat jy behoort! Die lewe is kort en vinnig en mense is kosbaar en belangrik. Onthou altyd die eerste 90 sekondes is maak of breektyd!
“ ’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ‘n dwars antwoord laat woede opspring. ”
Spr. 15:1







