’n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie

’n YouTube short flits oor my skerm en vang my oog en my oor. Dis ’n mediese dokter wat vertel hoe sy opgemerk het dat baie van haar pasiënte deur hulle troeteldiere letterlik aan die lewe gehou word.

Eers het ek gedink dis ’n heerlike en opbeurende boodskap. Maar toe tref dit my: Hoekom is daar nie mense wat hierdie pasiënte se las ligter maak en vir hulle die konneksies gee wat hulle lewens sinvol maak nie?

Weens my baie reise en gejaagde leefstyl het ek nie self ’n troeteldier nie. Tog verstaan ek die konneksies wat daar tussen mense en hulle oulike honde, deftige katte, eksotiese visse en parmantige papegaaie is en hoe kosbaar dit is.

Ek verstaan ook dat Blou en Rooi mense wat meer taak- as verhoudingsgerig is saam met Mark Twain uitroep: “Hoe beter ek mense leer ken, hoe liewer word ek vir my hond!” Tog dink ek dis ’n tragedie in ons samelewing dat mense al hoe minder kontak met regte-egte mense het …

Want sien, soms is net een klein gebaar deur ’n persoon met twee bene al wat nodig is om letterlik iemand se lewe te red. In ’n YouTube potgooi het ek ’n ware storie gehoor wat dit aangrypend illustreer. Die sielkundige wat dit vertel het se naam het ek vergeet, maar die verhaal leef in my hart voort.

’n Man se vrou is oorlede toe hulle nog net ’n paar jaar getroud was. Hulle het nog nie kinders gehad nie en sy verdriet was groot. Hy het oor haar getreur, maar ook oor die toekoms en die nageslag waaroor hulle gedroom het en toe so onverwags en wreed verloor het.

Ná baie maande se treur waartydens sy werk hom verlof gegee het, het hy eendag met ’n bietjie meer moed opgestaan. Hy het kans gesien om vir die eerste keer self inkopies te gaan doen. Hy het gestort, netjies aangetrek en by sy voordeur uitgestap.

Omdat hy in ’n klein Engelse dorpie gewoon het, het hy sommer te voet na die naaste winkel gegaan. Langs die pad het hy bekendes raakgesien. Sy maag het op ’n knop getrek, maar hy het homself gestaal om met die mense te gesels. Die lewe gaan voort en hy wil deel wees daarvan.

Tot sy verbasing en pynlike gewaarwording het almal hom vermy. Party het gemaak of hulle hom nie sien nie en ander het selfs die pad oorgesteek om nie met hom te praat nie. Dit was ontstellend, maar hy het deurgedruk en by sy bekende kruidenierswinkel ingegaan.

Hy het egter net die eerste twee rakke gehaal. Oral het hy items raakgesien wat hom aan sy vrou en hulle saamwees herinner het. Sy hart en die winkel het so intens leeg gevoel sonder haar dat hy gevlug het. Hy is huis toe, maar wou nie opgee op sy missie nie.

Hy het met sy motor na die buurdorp gery en daar by ’n groter en meer onpersoonlike winkel ingestap waar hy en sy vrou nooit vantevore saam was nie. Maar by die ingang het emmers vol blomme gestaan en opeens het hy weer met oorweldigende sekerheid geweet dat hy nooit weer vir sy geliefde hiermee kan verras nie.

Al wat hy gaan koop het op pad huis toe, was ’n fles whisky. Tuisgekom het hy al die slaappille wat hy maande vantevore by ’n dokter gekry het en die oues wat sy vrou tydens haar siekte nie gebruik het nie, in netjiese rytjies op die koffietafel uitgepak.

Hy het ’n paar glase vol drank gegooi, sonder water of ys, en ook op die koffietafel uitgepak. Vir ’n ruk lank het hy met krom skouers en met geen hoop of uitsig op ’n toekoms na die troostelose prentjie voor hom gestaar. In sy gemoed was hy seker: Hy was klaar met die lewe.

Met sy hand om ’n glas gevou, was daar opeens ’n klop aan sy voordeur. Outomaties, amper soos ’n robot, het hy die glas neergesit, opgestaan en die deur oopgemaak.

’n Man het sy hand uitgesteek om hom te groet en gesê: “Ons ken mekaar nie, maar ek het gewonder of jy dalk saam met my ‘pub’ toe wil gaan.” Hy het sy jas wat in die ingangsportaal gehang het, aangetrek. Sonder om na die koffietafel terug te kyk, het hy die deur agter hom toegetrek en saam met die man gestap.

Hierdie eerste kuier was die begin van hulle konneksie en hulle het hierná gereeld bymekaargekom. Die man het beradingsessies by die sielkundige van die potgooi geboek en getrou bygewoon. Hy het teruggegaan werk toe.

’n Paar jaar later het hy ’n nuwe geliefde ontmoet, hulle is getroud en hy het pa geword. Die vreemdeling wat sommer net op die ingewing van die oomblik aan sy deur geklop het, is steeds sy goeie vriend.

In wie se lewe kan jy die een wees wat keer dat hierdie persoon uitrafel?

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Om met eer te wen
Inspiration

Om met eer te wen

Die Keniaanse atleet Abel Mutai was los voor in die resies. Enkele meters voor die wenstreep, het hy gestop omdat hy gedink het dat dit

Read More »