As jy die pad met God stap, verander dit die toestand van jou hart!
Dit is ‘n Sondagoggend in Oktober 1984. Die kerk is uit. Ek gaan by die “ryk” Scheeperse eet. Daar drink en eet jy uit Royal Alberts. Ek ry in my bruin Volkswagen Passat wat ek genadiglik as geskenk by die “ryk” Scheffers gekry het.
Met ʼn honger maag en ʼn hart vol dankbaarheid vir goedheid en guns ry ek op pad na die ete in lanings vol Jakaranda bloeisels. Langs ʼn geel waterpyp sit-leun ʼn man en ek wonder waar hy vanmiddag eet. Nog vol van die kerk in my voel ek gelei om tien rand van my laaste twintig rand vir hom te gee. Oortuig dat dit die regte ding is om te doen stop en vra ek: “Ken jy die Here?” waarop hy antwoord: “Oh daai Man, Hy leef hier in my hart”. Ek sê vir hom: “Daai Man, Hy het vir my gesê ek moet vir jou ʼn geldjie gee.” So sit ek die tien rand in sy hand, waarna hy my vra: “Jy is seker daai Man, Hy het gesê net die tien rand?” Nodeloos om te sê dat ek lus was om terug te stoot en oor hom te ry.
Vandag, by Woolworths is ek half vererg toe die karwag my volg vir sy geldjie. Ek gee dit halfhartig en vererg sonder ʼn glimlag. Met die wegry besef ek, dat om te gee met ʼn goor gesindheid niksseggend is en geen vreugde bring nie. Ek draai om, vra hom my geldjie terug en gee dit weer. Hierdie keer met ʼn blymoedige hart.
Sommige mense soos die Scheeperse, die Scheffers en vele ander het blymoedig in my lewe gesaai. Soms saai ons emosioneel en kry nie die verwagte reaksie nie. Die saak bly staan – God het ʼn blymoedige gewer lief en wanneer ons saai, verlaat die geld slegs ons hand en nie ons lewe nie. Om te kan gee is ʼn voorreg. Wees dus ʼn getroue en blymoedige gewer!
“ As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol. Met watter maat julle ook al meet – klein of groot – dit sal gebruik word om te meet wat julle sal terugontvang. ”
Luk. 6:38







