Dit is nie soseer die lewe wat jou teleurstel nie, maar jou verwagting daarvan.
Ek is deel van ’n geselskap waar daar gepraat word oor die huidige ekonomiese omstandighede en die onvermydelike realiteit en noodsaaklikheid van herstrukturering om sodoende risiko te verminder om op die langtermyn te oorleef.
Ek glo dat dit belangrik is om dit nie persoonlik op te neem soos baie mense wel doen nie. Herstrukturering is gewoonlik
‘n noodmaatreël en nie persoonlik gerig nie. Sommige slagoffers van herstrukturering ly soms aan skuldgevoelens. Wonder wat hulle gedoen het of anders kon doen om van die proses te ontsnap. Of jy uit die aard van jou posisie ‘n aandeel in die saak gehad het of nie – jy kan die situasie nie verander nie. Skuldgevoelens gaan jou net dieper in ‘n maalkolk van negatiewe emosie intrek en verhinder dat jy progressief vorentoe beweeg.
Jy sal dus verby die emosie na die harde realiteit moet kyk dat dit ’n wêreldwye fenomeen is en nie ‘n persoonlike vendetta nie.
Die lewe gebeur!
Ek glo dat die “slagoffer” se houding deurslaggewend is. Sou jy dit isoleer en as ‘n probleem sien, mag jy dalk sink. Sien jy dit as ‘n uitdaging om jou potensiaal te ontwikkel, plaas dit jou op die wenpad. “Your attitude determines your altitude.”
Hoe beweeg ’n mens tog vorentoe in stresvolle omstandighede? Victor Frankl, ‘n bekende sielkundige wat die Auschwitz kamp oorleef het, het gesê: “And throughout my ordeal, I could not help but see that, among those given a chance for survival, it was those who held on to a vision of the future, whether it be a significant task before them, or a return to their loved ones, that were most likely to survive their suffering.”
Ek glo dat ‘n oop gemoed, die besef van harde onveranderbare realiteite, positiewe gesindheid, harde werk en ‘n hart vol hoop, die vlam van nuwe hoop en lewe in jou hart kan laat vlamvat.
“ Ek weet wat Ek vir julle beplan het, sê die Here. Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle juister. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind .”
Jer. 29:11-13 (NLV)







