Moenie dinge persoonlik opneem nie

Een van die lewe se groot uitdagings is om dinge nie persoonlik op te neem nie – veral nie woorde nie. Ja, ek weet dis makliker gesê as gedaan. Veral wanneer die persoon wat jou met ‘n skuins opmerking aanval – of dis hoe jy dit beleef – ‘n geliefde of ‘n naby-vriend is.

Ons weet dat mense verskil. Dat ons almal met ons eie bagasie sit en uit verskillende omstandighede en agtergronde kom. Ons weet ook dat ons almal goeie en slegte dae het – en dat ons ons frustrasies uithaal op dié wat die naaste aan ons is. Want ons weet hulle sal ons nie afskryf nie.

Maar ons kry nie reg om hierdie kop-feit te skei van die felle emosies wat ‘n ander se woorde in ons uitlok nie.

Daar is ‘n legio redes waarom ons mekaar so diep seermaak met woorde. Soms gebeur dit dat die onderwerp waaroor daar gepraat word, ‘n pynlike ervaring of ‘n vrees uit jou maat se verlede sneller. Dalk ‘n verwerping of ‘n jy-is-nie-goed-genoeg nie-boodskap. Dan hap hy of sy, sonder om te dink, na jou wat iets dood onskuldig gesê het. Net om hom of haar van sy lyf af te hou. Uit vrees dat hulle weer die verwerpingspyn gaan ervaar.

Wanneer jy aan die ontvangkant staan van so ‘n pynlike hap, herinner jouself aan die volgende feite:

  • Die skuins woorde kom uit die ander persoon se binnekant – nie uit joune nie. Die seerkry was of is nie joune nie en jy moet dit ook nie nou joune maak nie. Onthou hierdie feit voordat jy toelaat dat die woorde jou kwes. 
  • Raak bewus van jou eie binnekant en probeer vasstel waarom die woorde jou seermaak. Vat dit dalk aan jou eie waardes of beginsels, of voel jy net in die gesig gevat omdat dit so totaal ongevraagd en onregverdig op jou afgekom het?
  • Moet dit nie persoonlik opneem nie. Besluit dat hy of sy nie jou vrede by jou gaan steel nie. Haal diep asem. Wag vir die regte oomblik. Gee sy woorde vir hom terug en sê wat dit aan jou gedoen het. Betuig jou simpatie met sy pyn maar moet dit nie deel maak van jou bagasie nie. 

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs