Maak vreugde ‘n gewoonte

Daar is mense wat glo dat ‘n mens òf gelukkig is òf nie. Dit was nog nooit my siening nie. Al weet ek dat sekere temperamente makliker inkoop in pret en plesier, glo ek dat vreugde ‘n keuse is – iets wat jy doelbewus in jou brein kan inbou.

 

Vir my lê die geheim daarin dat ek my definisie van gelukkig en tevrede wees, laai met ‘n hele verskeidenheid emosies: ek hoef nie opgewonde en uit-my-vel-uit te voel om vreugde te ervaar nie. Rustigheid, dankbaarheid, stilte in my gemoed en waardering vir mense en dinge maak my tevrede en diep gelukkig.

Goeie menseverhoudings maak my gelukkig. Soms, wanneer ek onbepland iets kleins vir iemand anders kan doen, gee dit my ‘n warm gevoel. Toe ek onlangs lees dat hierdie gevoel ‘n gesonde breinreaksie is, kon ek iets hiervan verstaan.

My omgewing – binne en buite die huis of kantoor – dra beslis by tot my gemoed. Dit moet mooi wees om my. Wanneer dit moontlik is, probeer ek na ‘n bedompige vergadering of ‘n rit deur die verkeer, ‘n stukkie mooi op te soek terwyl ek my koffie drink – al is dit deur by ‘n venster te sit waar ek ‘n voëltjie in ‘n boom kan dophou.

Ek probeer elke dag ten minste een lekker aktiwiteit in te bou. Soms (net soms…) is dit ‘n sessie op ‘n trapfiets in die gym, ander kere ‘n stil tydjie op my eie stoepie, terwyl ek luister na mooi musiek. Dit maak my stil, dankbaar en tevrede.

Wanneer ek dit regkry om my lewe te vereenvoudig, om te fokus op dié dinge wat werklik belangrik is, ervaar ek altyd vreugde en vrede in die hoogste graad. Dis nogal ‘n uitdaging vir ‘n besige by, maar beslis iets waaraan ek myself gereeld herinner. 

Nes ek myself daaraan herinner dat vreugde en vrede deel van elke asemteug kan wees.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Kyk na jouself
Passion

Kyk na jouself

Mense sê soms vir my, my lewe is te besig. Ek is omtrent elke dag op ‘n ander dorp in die land. Ek geniet dit.

Read More »