Ons ken almal die uitdrukking “om jou kop skoon te maak.” Ekself hou daarvan om te gaan stap of te oefen wanneer ek wil kop skoonmaak. Maar besef ons regtig hoe noodsaaklik hierdie aktiwiteit is?
Dit gebeur met almal van ons dat ons soms oorweldig voel deur al die hooi op ons vurk. Wanneer jy saans jou oë toemaak, dreun die lysie van onafgehandelde take deur jou kop. As jy aan more dink, wonder jy hoe jy by die helfte van die nuwe take op jou doenlysie gaan uitkom – en hoe gemaak met vandag se oorskiet wat jy ook sal moet inpas?
Ek wou onlangs ʼn beker met vrugtesap in ʼn ander houer leegmaak, omdat ek die groter beker vir iets anders nodig gehad het. Ek vat toe die halfvol groot beker en die kleiner plastiekhouer wasbak toe om die inhoud oor te gooi.
Gelukkig het ek die takie oor die kombuiswasbak gedoen – want ek het my heeltemal misreken met die inhoud van die groter houer. Ek het byna ʼn koppievol vrugtesap by die drein afgemors.
Maar skielik was dit vir my ʼn les: Dis presies wat gebeur wanneer ek my kop oorlaai. Wanneer ek te veel dinge op my brein het, is dit soos ʼn rekenaar met ʼn oorlaaide hardeskyf. Die ding is so vol data, dat hy nie meer geheuespasie (noem ʼn mens dit RAM in rekenaartaal?) oor het om somme te kan maak nie.
Hoe kom ek hieruit? Deur my kop skoon te maak, van hoek tot kant. ʼn Stappie of ʼn draffie kan jou perspektief gee, maar as jy die skoonmaaksessie behoorlik wil doen, moet jy pen en papier nader trek.
Maak ʼn lys van al jou bekommernisse, alles wat jy moet doen en al die emosies wat jou op die oomblik teister. Neem dan ʼn kleurpen (ʼn highlighter) en kies versigtig die drie dinge uit wat jou sal laat vorentoe beweeg.
Jy sal agterkom hoe jy ligter begin voel en dinge skielik begin regkry. Want ‘n koppie wat oorvol is, mors. Dis ʼn wet van die natuur…







