Maak jy jou geliefdes se sinne vir hulle klaar? Besige mense, so sê dié wat weet, doen dit sonder dat hulle dit agterkom. Want deel van gejaagd wees is om vinnig te kan dink, en vinnig tot die punt te kom wanneer jy praat. En dis tog hoe en waarom ‘n mens moet praat, glo jy – om tot ‘n punt te kom.
Dis altyd vir my te snaaks vir woorde om in die geselskap van ‘n “inchipper” te wees. (Mits hy of sy my nie in die rede val nie…) Dit gebeur nogal maklik met getroude paartjies. Die een begin met ‘n storie en die ander een help hom òf kort-kort reg omdat sy feite volgens die inchipper nie korrek is nie, òf neem sy storie heeltemal oor. Totdat die prater later tjoepstil ingechip is.
In die proses sien jy hoe albei partye gespanne en geïrriteerd raak. Voor jou oë speel ‘n prentjie van intense frustrasie af, en jou sien hoe dit lyk wanneer ‘n mens nie gehoor word nie.
Om iemand uit te luister is sekerlik een van die grootste geskenke wat jy aan hom of haar kan gee. Min mense is goeie luisteraars, juis omdat dit opregte geduld verg. En dié soort geduld kan jy net hê as jy ook empatie met mense het.
‘n Mens kan nie luister terwyl jy praat nie. Om mense in die rede te val of hulle sinne vir hulle klaar te maak, is ‘n slegte gewoonte. Dit maak jou en jou gespreksgenoot gespanne want dit beteken dat jy twee stelle gedagtes moet volg – jou eie en die ander persoon s’n.
As jy ‘n inchipper is, raak bewus van hierdie gewoonte en besluit doelbewus om dit af te leer. Sê vir jouself dat jy voortaan met empatie na ander, en veral na jou gesinslede, gaan luister. Haal asem wanneer jy jouself betrap en sien hoe jou eie pols stadiger begin klop – en hoe die mense in die geselskap ook begin ontspan.
Gesprekke sal skielik lekkerder word en voor jy weet, pluk jy die vrugte van herstelde verhoudings.







