Maak nie saak hoe stadig jy beweeg nie,solank dit in die regte rigting is!
Om regtigwaar gelukkig te wees en om jou volle potensiaal te kan bereik, kan jy nie onnodige bagasie saamsleep nie. Dis nou daardie tasse vol van gister se pyn, lyding en opgekropte emosies. Wat verby is verby. Jy sal dit moet los. Die beste ding wat jy vir jouself kan doen is om daai tasse oop te maak, die emosies daarin te bekyk en dan tot aksie oor te gaan.
Is jy steeds kwaad vir ‘n laerskoolonderwyseres wat gesê het jy is dom? Jy weet mos dis nie waar nie. Gooi dit uit. Vergeet daarvan. Maar, wat van daardie verskriklike seer wat jy in jou ronddra omdat jou man jou verneuk het, die verskriklike egskeiding daarna?
Dis tyd om te vergewe. Vergifnis maak gesond. Kwaad wees, gebelgd voel en heeltyd aan seerkry dink, belemmer net een persoon… jouself! Solank ons vashou aan die pyn van die verlede sal dit ons vergiftig en later vernietig. God wil hê dat ons, ons tassies moet agterlaat. Hy wil vir ons ʼn nuwe begin gee.
Indien iemand jou te na gekom het, gee dit vir God. Los die tassie by Hom. Hou op om te treur oor dit wat was en beweeg aan. Solank jy bly top oor die verlede, sal jy verder en verder in die gat van depressie verval.
Vryheid van negatiewe emosies begin deur die wortel van die euwel te vind, dit te erken en om alles moontlik te doen om dit te herstel. Vergifnis is altyd deel van die oplossing. Die voordele van vergifnis is eindeloos, want wanneer jy ‘n ander vergewe, word jy self van die boeie van jou eie woede en bitterheid losgemaak.
Maar wat as jou swaarste tas ‘n klomp skuldgevoelens bevat? Ook met dit moet jy na God gaan. Hy alleen kan jou vryspreek en nuut maak. God is groter as jou verlede en teleurstellings.
Vul jou hart met hoop en fokus op nuwe geleenthede!
Hou wel in gedagte dat dit ‘n proses is – moenie oornag wonderwerke verwag nie. Hou aan met die vasberadenheid waarmee ‘n Olimpiese kampioen hom vir sy item voorberei. Moet net nooit opgee nie. Hou aan totdat jy oorwinning behaal. As jy ‘n duisend keer weer moet probeer, moenie moed opgee nie. Jy sal in die proses net sterker en wyser word en God se genade sal enduit saam met jou werk.
“ Sy antwoord was: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. ”
2 Kor. 12:9-10







