Ek het ‘n vriend Nelus wat die dierbaarheid vanself is. Sommiges noem hom Sagmoedige Neelsie. Hy laat my nogal dink aan die Sagmoedige Reus want hy is lank en groot en slim. Ek het hom nog nooit kwaad gesien nie, al het sy vrou dalk ‘n ander verhaal.
Wanneer ek die Bergpredikasie se “salig is die sagmoediges van gees” lees, dink ek altyd aan hom. En dan betrap ek myself dat ek hom ‘n bietjie jammer kry. Want, al het ek hom nog nooit in ‘n werksituasie gesien nie, is die prentjie in my kop dat mense maklik oor hom sal loop. Want soos die meeste mense, het ek “sagmoedig” gelyk gestel aan “sag” en selfs “swak”.
Tot ‘n week gelede. Toe hy in ‘n groep was waar ons saam ‘n probleem moes oplos. Met die allergrootste geduld het hy elkeen se argument uitgeluister – selfs die dom voorstelle wat my begin irriteer het. Op die regte oomblik het hy sag maar ferm die belangrikste feite opgesom en die groep gekry om by die oplossing uit te kom.
Daar het skielik vir my ‘n lig opgegaan. Ek het besef dat mense wat sag is, sterker is as dié onder ons wat glo dat hard praat van jou ‘n dinamiese mens maak. Allesbehalwe. Al sê die Bybel dat jy iemand nie op sy baadjie moet taks nie, laat ons ons steeds deur voorkoms beïndruk. As iemand stilbly in ‘n vergadering, dink ons dat hy skaam of bang is. Ons glo dat die praters ook die weters is.
Ek het onlangs oor veerkragtigheid gedink – die Afrikaans vir die Engelse “resilience”. Dis ‘n kwaliteit wat mense in dae soos hierdie laat oorleef en selfs gedy. Ek het onthou dat veerkragtigheid en buigsaamheid saam gaan. Hard beteken nie sterk nie – ‘n gebakte porseleinkoppie breek terwyl ‘n rubberding hop wanneer hy val.
Ek ek het besef ek was nog altyd verkeerd: Om sag te wees is om sterk te wees.
Die geestelike Thomas Merton het gesê: “Sagmoedigheid is nie swakheid nie maar krag wat onder leisels gehou word.”







