Leef jy op die naald se punt?

My vriendin Martie wat in die dubbelverdieping gebly het, het kleintyd ‘n juweleboksie gehad wat haar pa vir haar van oorsee af gebring het. Hy het so ‘n opwensleutel gehad wat ‘n ballerinatjie op ‘n naald kon laat dans, vir solank die deuntjie gespeel het. Ons kon ure lank na die poppie kyk en het beurte gemaak om haar te laat dans. Ek het lank geglo dat dit iets is wat ballerinas leer – om op naalde te dans.

Tot ek in my grootmensjare vroue ontmoet het wat dit ook doen. Ons ken almal ‘n paar Perfekte Petronellas. Hulle huise is prentjie-skoon en altyd aan die kant. Maar as jy tyd maak vir ‘n stil kuiertjie saam met Petronella, kom jy gou agter hoe moeg en gestres sy is. Sy bieg dat sy nie meer sonder haar anti-depressante en ander angsmedikasie kan klaarkom nie. En jy hoef nie super slim te wees om te weet dat sy die een is wat van haar eie lewe ‘n naaldedans maak nie.

Haar daaglikse roetine is vir haar soos ‘n eksamen. Voor tienuur soggens moet die voorhuis en die kombuis geen tekens wys van ‘n man en kinders wat daardeur gewaai het nie. Kamers moet netjies wees en alle matte klaar gestofsuig. Sy gun haarself nie ‘n koppie tee of ‘n oomblik se stilsit voordat dit gedoen is nie. En as die foon dalk lui omdat ‘n vriendin wil kuier, raak sy angstig en omgekrap.

Dan is dit gym-tyd en inkopietyd. Alles op ‘n drafstap omdat dit móét. En laat ‘n kind net bel met ‘n ekstra versoek vir iets wat by die huis vergeet is, of ‘n onbeplande netbalwedstryd wat vanmiddag gespeel moet word, dan is sy soos hulle sê, ge-gooi.

Sy is ‘n sagte mens, wat ander graag tevrede wil stel. Maar die een met wie sy geen genade het nie, is haarself.

Liewe Petronella, die lewe is nie ‘n krisis nie. Jy hoef nie op ‘n naald se punt te dans nie – daar is ‘n ganse dansvloer en jy kan jou wals en jou dansliedjie kies. Wees net ‘n slag eerlik met jouself en stel jou doenlysie en jou spertye op met liefde en genade vir jouself.

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Is jy ‘n Meer-Meester?
Inspiration

Is jy ‘n Meer-Meester?

Multi-tasking is een van daai begrippe wat nie lekker in Afrikaans vertaal kan word nie. Dubbeldoener, Ratse Raakvatter, Meermeester – dis wat vir my nou

Read More »
Krap die verf af
Inspiration

Krap die verf af

Ek lees onlangs hoe ‘n dapper vrou besluit het om haar ou huis se deure te restoureer. Sy vertel van die harde werk om deur

Read More »