Wat is jou passie? Of praktieser gestel, wat geniet jy om te doen?
Een manier om by hierdie antwoord uit te kom, is om vir jouself te vra of daar iets is wat jy bereid is om gratis te doen en dat dit amper ‘n bysaak is as mense jou daarvoor wil betaal.
Baie van ons dink dat ‘n passie iets is wat jy in jou vrye tyd moet beoefen – dalk eers wanneer jy die dag aftree. Omdat dit vir jou so lekker is, glo jy dat dit nie jou werk of tydverdryf kan word nie.
Ons maak ‘n fout as ons so dink, sê die lewensafrigters. Hulle het bewys dat mense wat hulle passies beoefen, ure se produktiwiteit by elke dag sit en uiteindelik ook langer lewe.
Om jou passie te ontdek, vereis dat jy in die eerste plek jouself moet ken. Jy moet weet of jy mens- of taakgerig is, of jy ‘n intro- of ekstrovert is en watter soort omgewing jou laat tuis voel. Want daar is nie ‘n manier hoe jy kan floreer as jy nie tuis is in die omgewing waar jy moet woon en werk nie.
Daar is nie ‘n reg of verkeerd of selfs goed of sleg wanneer dit by geaardheid kom nie – jy is wie en wat jy is omdat jy so gemaak is en jou passie, of dit wat jou gelukkig maak, loop ten nouste saam met hoe jy jouself sien en aanvaar.
Om jou passie te vind en jouself toe te laat om hierdie passie te leef, is ‘n ontdekkingsreis. Wanneer ander skepties is oor jou passie, moet jy onthou dat mense eers in iets begin glo wanneer dit ‘n impak maak of sigbaar word. Vra maar vir ingenieurs en prokureurs (soos Jannie du Toit) wat musikante wou word – hulle moes eers vir Pa en Ma tevrede stel deur die graad klaar te maak “om iets te hê om op terug te val”.
As jy werklik in jou passie glo, en weet dat dit jou by vervulling sal uitbring, sal wat ander dink jou nie langer terughou nie. Aanvaar dat dit ‘n proses is maar begin met jou ontdekkingsreis – en sien hoe jy jou energie terugkry!







