Wanneer laas het jy hardop gelag? Sommer uit jou maag uit, of tot die trane rol?
 
Lanklaas, nè? Want ons leef in sulke ERNstige tye. En daar’s nie tyd vir grappies nie…
 
Maar weet julle – ons maak ʼn verskriklike fout! Dis wetenskaplik bewys dat lag nie net goed is vir ons nie, maar dat dit ons selfs kan help om te oorleef.
 
Het julle geweet dat lag die hele brein betrek? Wanneer iemand ʼn grap vertel, interpreteer jou linkerbrein die woorde en die struktuur van die grap, terwyl die voorste lob van jou regterbrein vir jou sê of dit snaaks is of nie. 
 
Navorsing het ook bewys dat die limbiese stelsel in die brein, die amygdala en die hippocampus wat ons mees basiese emosies soos honger en vrees prosesseer, ook betrek word wanneer ons iets snaaks hoor. So word die kognitiewe deel van die brein met die emosionele gedeelte verbind, die boodskap word deurgegee na die motorfunksie van die brein – en dis wanneer jy snaakse geluide begin maak of begin lag.
 
Hulle sê dat ʼn normale mens tot 17 keer per dag kan lag en dat lag goed is vir jou hartklop en jou bloedvate en dat dit jou kanse op ʼn hartaanval aansienlik verminder. 
 
Wanneer ons lag, maak dit nie net ons emosionele las ligter nie, dit stimuleer ook die werking van ons organe. Dit maak dat jy meer suurstof inasem en stimuleer jou long- en spierfunksie en gee vir jou brein die opdrag om meer endorfiene of goedvoel-hormone vry te stel. 
 
Met dieselfde lag verminder jy ook die produksie van streshormone soos kortisol en adrenalien. (Dit gebeur blykbaar selfs wanneer jy kunsmatig of ge-oefend lag!) Dit is ook goed vir jou immuunstelsel omdat dit help om teenliggaampies te produseer. 
 
Daar is selfs bewys dat die serotonien wat deur lag vrygestel word, dieselfde chemiese uitwerking op jou gestel het as antidepressante – al is dit vir ʼn korter periode as die pille se uitwerking.
 
Ons sien dus dat lag fisies, sielkundig en emosioneel vir ons goed is. Neurowetenskaplikes het selfs bewys dat die endorfiene wat deur lekker lag vrygestel word, dieselfde reseptore in die brein aanskakel wat deur dwelms geaktiveer word.
 
Lag is ook aansteeklik. Het julle al ooit gewonder waarom ʼn mens so lekker kuier wanneer daar gelag word? Die wetenskaplikes sê dat die endorfiene wat deur een persoon vrygestel word, die res van die groep kan aansteek om ook endorfiene te vervaardig. Hierdie kettingreaksie sorg vir ʼn gevoel van saam-wees en veiligheid – en dis waarom dit vriendelikheid, omgee en vriendskap bevorder.
 
Ons is die enigste spesie op hierdie planeet wat eerlik kan lag. (Daar is ʼn paar diereliefhebbers wat dalk sal verskil omdat sjimpanzees en gorillas lag wanneer jy hulle kielie. Maar wetenskaplikes sê ʼn mens-lag is anders omdat dit deur humor gesneller word.) Al is daar duisende verskillende laggeluide, beskryf ons lag in al die tale dieselfde – as hee-hee of ha-ha. 
 
Plato en Aristoteles en ander filosowe kon deur die eeue nie saamstem oor waar humor en lag vandaan kom nie. Sommiges beweer dat dit vir die oer-mense ʼn soort seintaal was wanneer ʼn bedreiging nie regtig ernstig was nie. Of ʼn manier om kinders met mekaar te leer klaarkom.
 
Maar wat ons wel weet is dat ons bedraad is vir humor – dis ʼn basiese behoefte, julle! Dis noodsaaklik vir ons fisiese en emosionele gesondheid, vir ons gemoed en ons oorlewing in tye van spanning en onsekerheid. Dis byna soos oefening, iets wat jy nie moet afskeep nie.
 
Ek onthou, as kind het ek gereeld by ʼn vriendin se huis gaan kuier. Hulle was ʼn gelukkige gesin – of vir my het dit so gelyk. (Miskien het ek nie van hulle ongelukkigheid geweet nie.) Maar ek weet dat hulle lekker kon lag wanneer hulle saam was. En iets wat ek van hulle huis onthou, is dat daar grappie-boekies in hulle gaste-toilet was. Soos Charlie Brown van Peanuts en ander lagboekies. Ek het dit altyd geniet om deur die boekies te blaai.
 
Noudat ek terugdink, wonder ek of dit nie dalk hulle manier was om almal wat by hulle kom kuier het, te help om hulle lagspiere te oefen nie. Dalk het hulle geweet dat die gemakshuisie die beste plek is om hierdie uiters noodsaaklike les te leer…
 
Komaan – LAG ʼn SLAG!!

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Anger
Anger

Anger

Scientists have proven that people would choose discomfort before the unknown. Even if your comfort zone is no longer comfortable, you would choose to stay

Read More »
Drie vrae
Inspiration

Drie vrae

Ek sit onlangs in ‘n beplanningsessie tussen ‘n klomp slimmes wat ‘n ghoeroe gehuur het om hulle te motiveer vir die moeilike pad vorentoe. Ek

Read More »
Kyk na jouself
Passion

Kyk na jouself

Mense sê soms vir my, my lewe is te besig. Ek is omtrent elke dag op ‘n ander dorp in die land. Ek geniet dit.

Read More »