Kom ons leer by Dr Seuss

Today you are You, that is truer than true. There is none alive who is Youer than You.


Ek het vanoggend wakker geword met hierdie woorde van Dr Seuss, die beroemde kinderboekskrywer en kunstenaar. Hy is in 1991 op 87 dood en laat mense van alle ouderdomme vandag nog glimlag met sy snaakse, slim sêgoed wat so pynlik waar is. Ek glo dat ons in hierdie krisistye by hom kan leer:
 
Soms is die vrae ingewikkeld, maar die antwoorde so eenvoudig,” het hy geglo. “Fantasie is ‘n noodsaaklike bestanddeel van die lewe. Dis ‘n manier om na die lewe te kyk deur die verkeerde kant van ‘n teleskoop,” het Seuss gesê. Is dit nie dalk hoe ek en jy na ons huidige krisis en onsself moet kyk nie? As ‘n omgekeerde, klein prentjie in ‘n wêreld wat skielik op sy kop gedraai is?
 
Ek wil saam met Dr Seuss vir myself sê: ´Vandag wil ek lewe asof hierdie dag die dag is waaraan mense my gaan onthou.
 
En wanneer ek my wil steur aan wat ander van my dink, hoor ek sy woorde:
 
“Wees wie jy is en sê wat jy voel – 
want die wat hulle met jou bemoei, maak nie saak nie, 
en die wat saak maak, bemoei hulle nie met jou nie.”
 
Seuss (sy regte naam was Theodor Seuss Geisel), het nooit anders gedink as uit die boks uit nie. Hy het sy kreatiwiteit met pret gemeng en homself die hele tyd herskep – dikwels om te oorleef. Hy was eintlik ʼn spotprentkunstenaar en het in die depressiejare strokiesprente vir ʼn advertensiemaatskappy geskep. In die Tweede Wêreldoorlog het hy vir die Amerikaanse Lugmag animasierolprente gemaak om soldate en hul families tuis in te lig en te vermaak.
 
Sy passie was om kinders lief te maak vir lees en hy het sy eie uitdagings in doelwitte omskep. Toe ʼn uitgewer hom uitdaag om nie meer as ʼn kinder-woordeskat van 350 woorde te gebruik nie, het hy ‘The Cat in the Hat’ met net 220 woorde geskryf. In 1960 het ʼn uitgewer hom uitgedaag om net 50 woorde te gebruik en ‘Green Eggs and Ham’ het dit reggekry.
 
Sy passie is beloon met Oscars, ʼn Pulitzer-prys en twee Academy Awards. ‘Oh the Places You’ll Go’ is vandag nog ʼn topverkoper omdat mense hierdie kinderboek as ʼn geskenk koop wanneer iemand graad vang.
 
Ek kan sy raad gebruik as ek ‘n nuwe koers wil inslaan:
 
Dink links en dink regs; dink laag en dink hoog. 
Wat jy kan bedink hoef nooit op te droog!”
Of beter nog:
“Jy’t ‘n kop op jou skouers
‘n voet in elke skoen
jy kies jou rigting
dis net jy wat dit doen.”
 
En as ek dink aan my wakkerword-sin van vanoggend, onthou ek sy woorde: “Waarom wil jy inpas as jy eintlik gemaak is om uit te staan?
 
“Vandag is jy Jy, dis ‘n waarheid wat bly
Daar’s niemand op aarde, Jyer as Jy.”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs