Soms moet die vuur geblus word en somsmoet die vuur self uitbrand!
So sit ons om ‘n etenstafel na ‘n heerlike ete en wag vir die koffie om bedien te word toe die vraag: “kan mans en vroue platoniese vriende wees?” ter tafel gelê word.
Een van die opmerkings lui: “Dit maak nie saak hoe suiwer die aanvanklike bedoeling van die vriendskap is nie, hoe meer tyd ‘n man en vrou saam deurbring, hoe groter is die kans vir romanse.
So roep ‘n ander een die geselskap tot orde deur eers na die definisie van platoniese vriendskap te verwys. “ʼn Platoniese vriendskap is ʼn opregte toegeneentheid van vriendskap teenoor die teenoorgestelde geslag, sonder enige emosionele afhanklikheid en fisiese of seksuele betrokkenheid. (Die’t nou weer ge-Google!) “Ja, ja…” (sê ‘n ander wysneus) “… dit verander wanneer julle al meer tyd saam met mekaar wil deurbring of al meer aan mekaar begin dink. Die oomblik wanneer julle fisiek raak en abnormaal baie aan mekaar begin vat, is dit ook nie meer
platonies nie.”
‘n Ander wyse om die tafel sê dat dit ʼn natuurlike uitvloeisel is. “Mans en vroue is geskep om aangetrokke tot mekaar te voel. Die mens het ʼn innerlike seksuele dryfkrag en seksuele stimuli wat die moontlikheid van seksuele omgang en verbintenis verhoog. “Maar die sondeval het die mooi van wat God aanvanklik met die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou bedoel het, versteur. En nou is daar ʼn daaglikse stryd tussen die vlees wat geneig is tot sonde en gees wat graag die goeie en die regte dinge wil doen.”
Ek wil darem ook ietsie kwytraak en meen dat jou wil uit emosie en intellek bestaan en dat jou emosionele brein 80 000 keer vinniger as jou intellektuele brein werk. Dit is dus normaal om van natuur uit die vlees uit op te tree. “Daarom maak dit nie saak hoe goed jou bedoeling met ʼn platoniese vriendskap is nie – die gevaar is altyd daar… hoe meer tyd julle saam deurbring, hoe groter is die risiko.”
Daar is immers iets soos erotiese kapitaal, wat dit nog meer uitdagend en ingewikkeld maak… Wat op aarde is erotiese kapitaal? Dit is blykbaar dinge soos skoonheid, grasie, aantreklikheid, sjarme en buitengewone sosiale vaardighede. “Wanneer een of albei van die partye oor erotiese kapitaal beskik, verswak die waarskynlikheid van ʼn platoniese vriendskap verder.”
En dan is daar blykbaar ook nog jou temperament. Vier tipes temperamente, elk met unieke behoeftes en begeertes. En hoe meer iemand daardie behoeftes van jou vervul, hoe groter is die kans dat jy aangetrokke tot daardie persoon sal wees.
Dit is dus nie so eenvoudig om ʼn platoniese vriendskap te handhaaf nie. Vroue kry blykbaar meer emosionele en psigiese vervulling uit ʼn vriendskap, terwyl mans ʼn groter behoefte het om fisiek betrokke te raak. ʼn Sterk emosionele band sonder fisiese kontak is nie noodwendig platonies nie. Wanneer daar al meer aan mekaar begin dink word en jaloesie ʼn rol begin speel, begin die gevaarligte flikker.
En so dan die opsomming van die gesprek op tafel: “Daar is enkeles wat ʼn platoniese vriendskap kan geniet, maar dit is nie die reël nie, eerder die uitsondering op die reël.”
“Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”
Markus 14:38 (NLV)







