Jy wil wat? Sjampanje nou? Nee, wag later!

Geduld en moed oorwin die meeste probleme!


Jare gelede was ons vyf studente wat ‘n huis gedeel het. Ons was jonk, ons was maer, ons was slim en het al die antwoorde op die vrae van die lewe geken. Ons het alle uitdagings op die politieke, ekonomiese asook kerklike front aangevat en besweer. Ons het in ‘n pragtige huurhuis gebly met ʼn binnehuise tuin. Bo en behalwe dat ons jonk, maer en slim was, was ons nou nog “grand” ook.

Lewenslus en kreatiwiteit was deel van ons elke dag bestaan. Verjaarsdae en publieke vakansiedae was te min om die lewe te vier en geleenthede was geskep om partytjies te hou.

Dit was eksamentyd en die partytjies moes noodgedwonge op ys geplaas word wat natuurlik vir iemand met ‘n ongebalanseerde geel-kuier temperament soos myne, baie uitdagend was op daardie stadium van my lewe. Daar het ‘n bottel sjampanje van een of ander geleentheid in die yskas oorgebly en ek wou met alle mag en mening ‘n geleentheid skep te midde van die omstandighede om die bottel oop te maak. Tot een van ons saambly-vriende haar vererg en my die volgende toegesnou het: “Lynette, moenie dat die sjampanje vir die kuier-geleentheid vra nie. Wag dat die geleentheid vir die sjampanje vra.”

Watse twak is dit, het ek myself afgevra. Min het ek die waarde van haar kragtige woorde op daardie stadium besef. So dikwels is ons geneig om dinge in die lewe te forseer. Dit wat ons graag in ons verhoudings wil hê af te dwing sonder om te besef dat die tyd daarvoor moontlik nie nou reg is nie. Besigheidstransaksies te forseer omdat ons ongeduldig raak. Soms ook met die Here ongeduldig raak wanneer ons gebede volgens ons nie beantwoord word soos ons dit graag wil hê nie.

Dalk moet jy ook die les van die sjampanje leer … los maar die bottel in die yskas en wanneer die geleentheid hom voordoen, haal dit dan uit en geniet dit!

“ Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes. Vir die Here is een dag soos ‘n duisend jaar en duisend jaar soos een dag. ”

Become a Member Today!

Access exclusive content and enjoy member benefits by joining Lynette's community.

Inspiration

More Inspirational Blogs

Groot leiers
Inspiration

Groot leiers

“Groot leiers het almal een ding in gemeen”, skryf Johan Maxwell in sy boek Developing the leaders Around You: Hulle maak werk van dié wat

Read More »
Who can I love today?
Inspiration

Who can I love today?

I often find myself getting irritable with other people’s behaviour. This happens almost automatically in traffic, particularly on busy mornings.

Read More »
Seek to understand
Inspiration

Seek to understand

Stephen Covey’s classical bestseller, “Seven Habits of Highly Effective People,” contains a wealth of insights and tips that would improve any reader’s life.

Read More »