Die ou spreekwoord lui: “waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg”. Ek sê altyd “as jy glo jy kan, dan kan jy.”
Dit begin natuurlik alles by hoe jy dink. As jy in die oggende wakker word en jou eerste gedagte is “ugh, ek is nie lus vir hierdie dag nie”, is die kanse groot dat jou dag presies gaan uitdraai soos wat jy gedink het. Windskeef en onderstebo.
Nou weet ek ook dat nie alle mense fris, vars en vrolik voel in die oggend nie. Party moet mos eers ‘n tweede en selfs ‘n derde koppie koffie inkry en word eers mooi wakker as hul al by die werk is, maar selfs die oggend traes kan die dag begin op ‘n positiewe noot.
Ek hoor oor die naweek ‘n vrou vertel dat sy elke oggend haar drie kinders so een-een wakker maak deur in hul kamers in te gaan en “Goeiemôre my sonskyn, goeiemôre my kind” te sing. Haar oudste word wakker en kla dadelik oor Ma wat raas, haar jongste grawe homself net dieper onder die komberse in, maar elke oggend begin haar middelkind dadelik met ‘n vonkel in die oog saam te sing.
Sy lag lekker as sy die storie vertel. Dit is opmerklik dat al haar kinders, ten spyte van moeilike omstandighede, positief ingestel is, altyd vriendelik is en uit hul pad uitgaan om dinge vir ander makliker te maak.
Ek vermoed haar vrolike gesingery elke oggend het baie daarmee te doen. Sy self bekyk die lewe deur ‘n positiewe bril. Is altyd vrolik en behulpsaam, al is haar eie lewe besaai met opdraandes, seerkry en moeilikheid. Die lewe kry haar nie onder nie.
Sy het ‘n “ek kan en ek sal” ingesteldheid wat almal rondom haar positief beïnvloed. Dink net wat sal gebeur as ons almal hierdie ingesteldheid teenoor die lewe kan hê. Probeer om vir die volgende week elke dag eerste aan iets te dink waarvoor jy dankbaar is of positief oor voel en kyk dan of dit ‘n verskil in jou lewe maak.







