Die lewe is kort en vinnig en mense is kosbaaren belangrik!
Ek lees hierdie groot waarheid op Liesel Krause-Wiid se Facebookblad. “Die grootste geskenk wat jy iemand kan gee is jou aandag.” In die era waar almal heeldag met ‘n slimfoon in die hand staan, sit en loop (hoe kry hulle dit reg om te loop en tik?), dra haar stelling baie gewig.
Wanneer laas het jy die mense in jou huis in die oë gekyk as hulle met jou praat? Die moeite gedoen om jou foon neer te sit, die TV af te skakel en by hulle te gaan sit en te gesels? Met onverdeelde aandag te luister? Weet jy regtig hoe voel jou beste vriendin vandag? En jou man? Wat van jou kinders?
Jy dink dalk: “Maar Lynette, ek volg hulle op sosiale media. Ek deel hul inskrywings en “like” wat hulle kwytraak. Ek stuur elke oggend ‘n môre-sê versie aan al my kontakte.” Ja, doen ons nie maar almal so nie? Kommunikeer heeldag met almal, maar het geen idee wat in iemand se hart meer aangaan nie.
Waar is die dae van sommer net kuier? Ek raak benoud as ek sien hoe mense bymekaar verbykyk. Mense kyk mekaar nie meer in die oë nie. Het jy dit al opgemerk in ‘n restaurant? ‘n Hele gesin om die tafel. En neffens die borde lê die slimfone en dis so al of almal se oë dwaal, gesprekke opdroog. G’n wonder daar is so baie ongelukkige, eensame mense nie, want ons is besig om te verleer hoe om regtig te gesels. As daar nie ‘n like
knoppie is om te druk, of ‘n “LOL” wat getik kan word nie, dan is daar stilte…
Nee man! Bêre vir ‘n slag die slimfone en kuier saam met jou hartsmense. Kyk hul in die oë. Lag saam. Huil saam. Gesels. Doen dinge saam! Vergeet vir ‘n slag die mense van sosiale media se kammaland en gee aandag aan dié van vlees en bloed om jou. Dit kos nie geld nie. Dit eet nie jou lugtyd of data nie, al wat dit vra is jou tyd. Gee mense vandag jou onverdeelde aandag, môre is dit dalk te laat…
“ Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. ”
Gal. 5:16-17







